
Deur Arno Greyling
KAN ek begin deur eers vir Ford SA geluk te wens met die wyse waarop die maatskappy sy kliënte uiteindelik tegemoet gekom het ná die Kuga-fiasko.
Vir diegene wat nie weet nie: Ford SA het die geaffekteerde Kuga se waarborg verleng na 6 jaar/200000 km en op die koop toe ’n addisionele bedrag geld beskikbaar gestel om te help met die inruilwaarde. Dit is die tipe reaksie waardig van ’n maatskappy wat sy reputasie as ’n diensgerigte en top handelsmerk wil handhaaf. In die proses is die uitvoerende hoof van die Ford Suid-Afrika herroep, en hoewel dit ontken word, word daar wyd bespiegel dat hy die prys betaal het vir die onaanvaarbare stadige reaksie op die krisis aanvanklik.
Ek wil graag verder in die artikel stil staan by die jaarlikse Motor van die Jaar-kompetisie. Die kompetisie was die afgelope paar jaar ’n bietjie omstrede, hoofsaaklik omdat die wenners daarvan sedert 2013 tot 2015 ’n Porche was en in 2016 ’n Volvo XC90. Algar voertuie wat net vir ’n paar bevoorregtes onder ons beskore was en is. Met kooppryse van R900000 en hoër is dié vuurwaens nie voertuie vir Jan alleman nie, wat die breë publiek se belangstelling in die kompetisie laat taan het asook die geloofwaardigheid daarvan ’n knou toegedien het.
Vanjaar is die 32ste keer wat die kompetisie aangebied is en oor die jare het BMW 6, Volkswagen 4, Opel 4, Audi 3, Porche 3, Toyota 2, Honda 2, Volvo 2, Renault 2 en Nissan, Mazda, Hyundai, Alfa, Ford en Mercedes-Benz elkeen 1 wenner opgelewer. As jy die lysie weer mooi bekyk, kan jy met reg die afleiding maak dat die kopers-publiek, gegewe markaandeel, hom allermins gesteur het aan wat die joernaliste dink die Mo-tor van die Jaar moet wees.
Vanjaar is die wenner aangewys deur 28 joernaliste wat almal deel is van die SA gilde vir Motorjoernaliste. Daar is ook in 2016 ’n aanpassing gedoen deurdat ’n spesifieke model nie as wenner aangewys word nie, maar eerder die modelreeks. Uit die 10 finaliste is die Opel Astra aangewys as vanjaar se wenner en wat ’n waardige een daarby! Die Astra het blykbaar ook die titel in 16 ander lande ingepalm. Dit dui aan dat ons hier met iets besonders te doen het. En nou die strikvraag: Waarom weerspieël dit nie in die motor se verkoopsyfers nie?
Bemarking, bemarking, bemarking. Dit help nie die vervaardiger en die joernaliste weet daar is iets besonders beskikbaar en die publiek word nie daarvan oortuig nie. In Suid Afrika betaal die kopers maar baie moeilik ’n premie vir gehalte as die motor nie ’n baie eksklusiewe Duitse wapen op het nie. Ons regering is ’n sprekende voorbeeld hiervan. Kom nou, Opel, gee die Astra die blootstelling wat dit verdien en wys ons hoe persepsies geswaai kan word.
En leer tog by die vervaardigers wat met die hoogste markaandeel spog. Hulle gebruik nie emosielose en swak buitelande advertensies nie.
In Suid-Afrika moet jy met die hart praat.
Groetnis tot ’n volgende keer…