Topvermaak en landbouprodukte

Bring beursie na mark! By Prins Albert se Olyffeesmark word ’n interessante verskeidenheid by die mark-stalletjies te koop aangebied. Verlede jaar kon ’n mens selfs vir ’n lekker voetmassering by een van die stalletjies gaan.

Bring beursie na mark! By Prins Albert se Olyffeesmark word ’n interessante verskeidenheid by die mark-stalletjies te koop aangebied. Verlede jaar kon ’n mens selfs vir ’n lekker voetmassering by een van die stalletjies gaan.

Deur Marlene Malan
DIE derde Prins Albertse kos-en-olyffeesmark, op 28 en 29 April vanjaar op die skouterrein, is ’n ge­leentheid van topvermaak en bied inwoners van die dorp en omgewing die kans om die Karoo se toplandbouprodukte en die kunsies van koskenners te waardeer.

So sê Madri Rossouw, president van die Prins Albert Landbougenootskap.
“Kom kuier saam met ons, elke dag van 09:00 tot laat, want tydens hierdie top-kuiernaweek in die Groot-Karoo fokus ons op die produkte van ons omgewing: olywe, vye, kaas en wyn. En ons bied kosdemonstrasies deur gassjefs en plaaslike spyseniers van formaat.”

Die hoogtepunte op die naweekspyskaart is die aanbieding deur Francois Ferreira, bekende sjef, kosskrywer en hoof van die Francois Ferreira Akademie op George (Vrydag 28 April en Saterdag 29 April, 16:00). Hy is sedert 1 April die handelsmerkambassadeur van De Rustica Olywe naby De Rust, en daarom sal De Rustica ook sy produkte uitstal en te koop aanbied.

Ridwaan Lockhart van die restaurant Simply Saffron op Prins Albert gaan weer eksotiese disse voorberei as deel van sý demontrasie, en Gay van Hasselt, melkboer en kaasmaker van faam, gaan meer vertel oor verskillende kase en hul kos-en-drank-pasmaats… En wat is ’n plaasmark sonder ’n olyfpitspoegkompetisie?

Die vermaakhoogtepunt is die optrede deur die sangeres Nedine wat die Supercool Partytjie-show vir kinders aanbied, asook – saam met Jawaahier Petersen (dogter van Taliep Petersen) – ’n verto­ning deur Die Jaloersbokkies.

Volgens Nedine gaan haar Supercool-vertoning (Saterdag 29 April, 10:00) ’n interaktiewe geleent­heid wees. “My gaste gaan soos ware popsterre voel, want ek gaan hulle saam met my op die verhoog laat sing en dans. Trek dus jou partytjieklere aan en kom rock saam met my – en jy kan maar ouer as ’n kind ook wees as jy aan die pret wil meedoen!”

Die Jaloersbokkies se Piekniekliedjies-vertoning en CD-bekendstelling (Saterdag 29 April, 19:00) is, volgens Nedine, “so eg-Kaaps soos breyani en koeksisters, soos ghoema en winterreën. Ons gaan ons gehoor bekoor met ou bekendes soos Sarah de Jager, Johannes Kerkorrel se Halala Afrika en Ta­liep Petersen-gunstelinge, wat die lied oor die straatverkopers insluit, Two for the price of one, asook O’s is vannie Kaap. Jy gaan die Ghoema-ritmes en die Klopse-klanke hoor.”

Musiek is een van die hoofdisse op die program, met optredes deur die sangeres Madeleine Barnard en die Unity Male Voices van Prins Albert, die country-sangeres Minki van Beaufort-Wes, ’n optrede deur Prins Albert se No Name Band, ’n dansvertoning deur die Dynamite Dance Studio van Oudtshoorn en die stoftrappassies van Die Prins Albert Vastrappers. DJ Tobie verskaf die hele naweek se klank.

Volgens Rossouw “sal ons gaste uit die lekkerste disse kan kies en keur – ontbyt, middagete en aand­ete. Daar gaan stalletjies wees – van boeke tot varsgebak en handgemaak, oudhede, klere en skoonheidsprodukte, en natuurlik ons wyne uit die Prins Albert-vallei. Fernskloof se Diederik le Grange het ouder gewoonte weer ’n stylvolle wynproestalletjie. Ons gaan mense ou kombuiskunsies wys soos hoe om koffie te brand en plaasbrood te bak. Daar gaan ’n vragmotorrit wees na ’n olyfplaas, en veteraanmotorritte saam met Mirka Urbanc van Prins Albert. Kinders sal elke dag besig gehou word in ’n spesiale speelruimte.