Omgewingsbeampte na Oudtshoorn gestuur

Deur Liesel le Roux
’N OMGEWINGSBEAMPTE het Maandag op Oudtshoorn begin werk.
Volgens Aurelia Oliphant, woordvoerder van die Oudtshoorn Munisipaliteit, is die omgewingsbeampte deur die Wes-Kaapse Departement van Omgewingsake en Ontwikkelingsbeplanning na Oudtshoorn gestuur om aandag te skenk aan onder meer geraasbesoedeling.

Sy sê klankbesoedeling sal een van die beampte se kernverantwoordelikhede wees, asook die implementering en toepassing van omgewings­wetgewing.

Die beampte sal ook die munisipaliteit bystaan met sy “grondwetlike omgewingsbestuurs-verantwoordelikhede”.

Dit volg nadat Aifa, die vliegskool op Oudtshoorn, in Maart skielik begin het om saans vlieëniers op te lei. Verskeie inwoners en eienaars van verblyfplekke het gekla oor die skielike nagvlugte tot laataand laag oor woonhuise en verblyfplekke.

Daar is ook gevra of opleiding saans mag geskied.
Een van die dorp se inwoners wat in die vlugpad van die vliegtuie woon, Robert Keene, sê nagopleiding word na 18:00 verbied ingevolge ’n interim-beslissing ’n paar jaar gelede deur die Wes-Kaapse mi­nister van Omge­wing­­sake en Ont­wikke­lingsbeplanning, Anton Bredell. Dit is volgens Keene ’n oor­treding van interim-omgewingsim­pak­regulasies.

Hoewel Bredell se kantoor asook die uit­voe­rende hoof van Aifa, Chris Ebersohn, nog nie amptelik op navrae van Die Hoorn gereageer het nie, het beide Dinsdag te kenne gegee dat hulle wel binnekort sal reageer.

Die omgewingsbe­amp­te bly in diens van die Depar­tement van Omgewing­sake en Ont­wik­kelings­beplanning en word deur die departement vergoed.