Suid-Afrika en elektriese motors

Deur Arno Greyling

ONS gewaardeerde vrinne by Eskom het gesorg dat elektrisiteit (of dan nou die afwesigheid daarvan) weer op almal se lippe is. En nou moes ek onlangs lees dat die wêreldwye swaai na elektriese motors besig is om momentum te kry.

Demmit hoor ek iemand seg: “Hier lê ’n paar uitdagings voor vir ons!”

Kom ons kyk bietjie wat aan die gebeur is wat elektriese motors in Suid-Afrika betref. In 2017 is ’n allemintige 1 miljoen elektriese motors regoor Moeder Aarde verkoop. Gedurende 2018 het die syfer geklim en op 1,6 miljoen te staan gekom.

Daar word onderskei tussen drie tipes elektriese motors, naamlik battery-aangedrewe elektriese motors (BEV), inprop-hibriede elektriese motors (PHEV) en matige hibriede motors (MHEV).
’n BEV het slegs ’n battery wat die motor aandryf wat herlaai moet word. Die PHEV het ook ’n bykomende binnebrandenjin wat saam met die elektriese motor werk en nodig het om ingeprop te word om die batterye te herlaai. Krag word ook deur die remme herlaai. ’n MHEV kan nie ingeprop word nie.

Krag word deur die remstelsel herwin en daar word gebruik gemaak van ’n binne-brandenjin in situasies waar die batterye se lading laag is.

Die navorsings- en mediahuis Bloomberg reken dat 11% van alle voertuie teen 2025 elektries aangedrewe sal wees en teen 2040 sal dit styg tot ’n allemintige 55%. Daar is kenners wat meen dat Suid- Afrika teen 2025 wel gerat sal wees om groot hoeveelhede elektriese motors te hanteer. Jaguar en Land Rover sal reeds teen volgende jaar ’n elektriese motor in elk van hul reekse aanbied. Die groep het reeds in ’n vennootskap gegaan met die maatskappy GridCars om 82 openbare laaistasies landwyd te skep. Dit is ’n belegging van sowat R30 miljoen.

Tegnologie ontwikkel baie snel op die gebied. Daar is reeds batterye wat ná 8 jaar net 30 persent van hul vermoë verloor het wat beteken dat dit nog met 70 persent se gebruik oor die weg kan kom.

Maatskappye is reeds besig om batterye wat nie meer effektief is nie, te herwin en te herbou.

Elektriese motors het slegs een bewegende deel, dus minder breekbare dele en minder slytasie wat groter betroubaarheid meebring

Baie opwindend!

Maar ai… Eskom.