In wildernis is elke dag dieselfde

Deur Johan Strasheim

In die wildernis is elke dag dieselfde.

Sonder die moderne wêreld met TV en selfone om jou heeltyd te oorlaai met ongevraagde inligting, is elke dag letterlik dieselfde en word die goed wat belangrik is ’n heel ander lys as waaraan jy in die “beskawing” gewoond is. Soos yskoue bier ná ’n buffeljagekspedisie in die genadelose warm son en wolke muskiete van die Zambesi-delta.

So kom ek soos baie kere vantevore die Vrydag by die kamp met nuwe kliënte aan. Die roetine was altyd om deur ’n uitgebreide inspeksieroetine te gaan – van die spens tot elke chalet se beddegoed, die badkamers, die spens, elke klein detail … alles. Die manne in die kamp het juis ’n paar dae vry gehad en kon alles weer in orde kry – en belangrik – die lastige 260 kilometer Caia toe en terug ry om te gaan brandstof en bier koop.

Caia is ’n klein plekkie langs die Zambesirivier waar daar ’n reuse, moderne brug oor die rivier op die hoofroete na die noorde gebou is. Ons kon daar by sulke regte derdewêreldwinkels die basiese en nodigste goed soos meel, olie, sout en natuurlik 2M-bier kry. 2M is ’n plaaslike, baie lekker bier in sulke groot bottels en was baie gewild onder die gaste in die kamp.

Nou ja, alles is in orde – behalwe dat die ouens nie bier kon kry nie. Daar was eenvoudig nie. Onthou, dit is Mosambiek en dit gebeur soms dat alles nie altyd oral beskikbaar is nie.

Ná 20 minute op die satellietfoon is daar ’n plan. Ek gaan moet vlieg om bier te koop. Om alles natuurlik bietjie “interessanter” te maak, gaan ek Vilanculos toe moet vlieg, want Beira het nie Avgas nie, en ek gaan moet brandstof opneem om weer te kan terugvlieg Beira en Suid-Afrika toe. Beira toe en terug is so 280 kilometer, Vilanculos toe en terug nagenoeg 750 kilometer – oftewel 45 minute teenoor net meer as twee ure se vlieg. Dit maak die bier natuurlik baie duur, maar dis maar hoe dit is in die bos!

Die volgende oggend haal ons die Aerostar se sitplekke uit en laai dit vol plastiekkratte met leë bierbottels, en sommer baie ook. Die voorste spul word darem vasgemaak sodat dit nie op my omkantel in die lug nie.

Klaar gepak, en daar gaan ek – reguit Vilanculos toe – met ’n geklingel in die kajuit agter my. Daar is ’n paar dinge van die vlug tussen die kamp en Vilanculos wat ek altyd sal onthou. Die pragtige natuurskoon, die growwe aanloopbaan by Vilanculos (later jare mooi glad oorgedoen) en die feit dat jy in ’n stadium digby 70 kilometer van die vasteland af oor die see vlieg en net-net die land kan sien. Dit is nogal mooi en spesiaal om net skoon blou lug bo jou en net die blou see onder jou, reg rondom jou, tot op die horison te sien.

Ná so ’n uur se dagdroom oor die see en die kus is jy daar en by die lughawe is dit ’n heen en weer hardlopery om alles gereël te kry. Die ou wat vir my die kaste met bier bring en die “empties” kom haal, kerm kliphard omdat hy die goed moet help dra. Intussen moet ek orals vorms invul. Mosambiek se lughawens is ernstig oor papierwerk wat geen siel ooit in der ewigheid weer na gaan kyk nie. Ek moet landingsfooie betaal kry en tussen alles deur ook nog brandstof in die vliegtuig gegooi kry.

Die deurlopende onderhandelinge met die knaende, klewerige amptenare en sweterige grenspolisie in hulle kenmerkende warm, grys uniforms noem ek nie eens nie. Terwyl ek daar is, koop ek sommer ’n boks of twee camarão (garnale) by my kontak. Mosambiek is bekend vir sy smaaklike garnale en vanaand in die kamp is dit sulke tyd.

So ’n uur of drie later is die Aerostar se kajuit en bagasieruim tot teen die dak volgepak met kaste vol 2M-bottels.

Ná die gebruiklike formaliteite tussen myself en die vriendelike ou in die beheertoring is ek weg, terug kamp toe, hierdie keer so half met die kuslyn langs oor Beira en dan kamp toe omdat daar intussen ’n lekker groot, grommende en blitsende donderstorm oor die see ontwikkel het en ek dit liefs wou vermy.

Vroegmiddag daal ek kamp toe en ná die gebruiklike draai oor die kamp vlieg ek ’n wye draai om in ’n suidelike rigting te land, soos altyd. Teen die tyd wat ek van die aanloopbaan afdraai, is een van die manne daar met helpers om af te laai. ’n Landcruiser-bakkie is propvol en kan net-net alles wat in die Aerostar was, kamp toe neem.

Daardie aand is almal vol “smiles” met die lekker garnale en rys – en natuurlik yskoue bier. Behalwe Marius, hy is allergies vir skulpvis. Hy kry skaaptjops, wat ’n reuse “treat” is vir ouens wat elke dag rietbok, swartwitpens, buffel en vlakvarkvleis eet!

Miskien is elke dag tog nie heeltemal dieselfde nie…