BORGTOG is verlede week in die Oudtshoorn Landdroshof geweier aan ’n man van Dysselsdorp wat teregstaan op drie aanklagte van huisbraak wat hy glo binne veertien dae gepleeg het.
Die 30-jarige Samuel Bruiners, met twaalf vorige veroordelings, het glo in Augustus vanjaar by drie geleenthede by wonings in die buurt waar hy woon ingebreek en verskeie items gesteel het. Hy het volgens getuies glo die gesteelde items by ’n buurman versteek.
Die ondersoekbeampte in een van die sake, ao Ettiene Kuhn, het borgtog teengestaan omdat Bruiners ’n geneigdheid toon om misdaad te pleeg en die gemeenskap teen hom beskerm moet word.
Die staatsaanklaer, Zelda Jass, het die hof gevra om borgtog op grond van die ondersoekbeampte se getuienis te weier.
Landdros Stephanie Strydom het bevind dat geen bewyse voor die hof is dat Bruiners sal vlug, getuies beïnvloed, die strafstelsel sal ondermyn of nie vir sy hofdatums hof toe sal kom nie.
“Die hof het egter geen keuse as om te kyk na die beskuldigde se optrede in die verlede nie. Hy het ’n aaneenlopende rekord van misdaad en daarom sien die hof nie sy weg oop om borgtog toe te staan nie,” het die landdros gesê.
Die saak is vir verdere ondersoek uitgestel tot 5 Oktober. (Deur Garnett Wicomb)