DIE De Hoek- en Bridgton-gemeenskap is op 9 September vanjaar erg ontstel deur die selfdood van ’n 13-jarige meisie naby haar huis.
’n Roudiens vir haar het die afgelope Sondag in De Hoek plaasgevind. Sy was ’n leerder van ’n hoërskool in Bridgton en volgens inskrywings op sosiale media geliefd en gewild onder haar skoolmaats.
Die Hoorn het in November 2020 met ’n kliniese en pastorale sielkundige van Oudtshoorn, ds Petrus Theron, gesels oor die verskynsel van selfdood onder jong mense, veral in die tyd van Covid.
Hy was huiwerig om selfdood of pogings daartoe aan die pandemie toe te skryf.
“My huiwering het te make met die feit dat selfdood ’n ingewikkelde psigologiese verskynsel is wat moeilik volkome en afdoende verklaar kan word deur eenvoudige oorsaaklike verbande te lê.
“Die mens se sterk ingebore oorlewingsinstink en -drang is gerig op die voortsetting van lewe, dus selfbewaring, en nie die dood of selfvernietiging nie.
“Ons is nie ontwerp om ons eie ondergang te bewerkstellig nie.”
Theron sê egter die stres, angs en depressie wat deur die pandemie gekweek word, kan wel ’n rol speel in die sin dat dit die laaste spreekwoordelike “strooi was wat die kameel se rug gebreek het”.
Maar wat gemaak met al dié gevoelens, en hoe leef mens daarmee saam? Volgens Theron speel hierdie gevoelens, “hoe onaangenaam ook al”, ’n belangrike rol in ons psigiese oorlewing en is negatiewe emosies ook ons “vriende” wat ons bewus maak van probleme wat aandag verg.
“Mens moet dus nie die ‘rooi ligte’ ignoreer of verdoof nie, en indien die gevoelens voortduur, is dit raadsaam om professionele hulp te kry.” (Deur Stefan Goosen)