Briewe van lesers

Wie moet ons glo?

Ek vind dit moeilik om te glo, en beslis onaanvaarbaar, dat ons munisipaliteit hierdie stink storie van die chemiese toilette so ver laat gaan het. Indien die munisipaliteit ’n privaatmaatskappy was, sou die verantwoordelike beampte beslis teen hierdie tyd reeds op die rooi tapyt verskyn het en moontlik sy werk kwyt gewees het.

Geen verskoning vir die gedrag van die ontevrede inwoners nie, maar hoekom moet ontevrede inwoners (let wel, ek noem hul nie belastingbetalers nie) eers bande en toilette brand voordat daar aandag en beskaafde gesprekvoering aangaande ’n probleem gevoer word. Ek vermoed egter die kultuur van bande brand en strate versper word geïnisieer deur gereelde radio- en televisieberigte. Dit word ’n kultuur van vernietiging waarvoor die betrokkenes nie betaal nie.

Hoe kan die inwoners ontevrede wees oor die swak toestand van die toilette as dit nog nie eens afgelewer is nie? Waar en wanneer het hulle dit waargeneem? Volgens vorige berigte was die perseel waar toilette gestoor was, taamlik streng bewaak.

Hoekom kla die inwoners oor die Top Loos-toilette wat nie gediens word nie as dit juis hulle is wat verhoed dat die diensverskaffer toegang tot die toilette verkry?

Het die betrokke departement van die munisipaliteit wat hierdie nuwe tender toegestaan het, dan nie vooraf die toerusting gaan inspekteer om te verseker dat die gehalte aanvaarbaar is nie? Indien dit waar is dat die Bidvest-tender soveel goedkoper is as Top Loos s’n, moet die redelike persoon tog sekerlik minstens vermoed het dat daar ’n slang in die gras of iets anders in die drinkwater kan dryf.

Ek het in elk geval ’n sterk vermoede dat die persele waarop hul hokke staan, die eiendom van die munisipaliteit is en hulle hoogstens huurders is en hulle dus geen jurisdiksie behoort te hê nie.

Nou lees ek verder in ’n berig dat die inwoners ongelukkig is oor die feit dat die polisie opgetree het, asook die wyse waarop die polisie opgetree het. Dit herinner my aan JZ wat uit eie keuse die hof geminag het en nou bitter ontevrede is oor die vonnis wat hy gekry (lees: verdien) het.

Hierdie hele aangeleentheid bewys maar net weer eens dat iets wat jy verniet kry, nooit waardeer word nie.

Ek hoop van harte dat die munisipaliteit hieruit ’n les sal leer en dat hulle onverwyld sake in orde sal kry voordat die belastingbetalers maar weer vir die gelag sal moet betaal.

Ons het ’n plaaslike verkiesing op hande. Wys asseblief ’n bietjie durf en stel hierdie saak reg – net miskien gee dit ’n klompie ekstra stemme wat ons dorp so nodig het om weer op ’n doelgerigte en regverdige pad te kan voortbou. Sterkte toegewens.
– Pieter Conradie, Oudtshoorn

Redes vir dié koalisie?

Daar word verskeie redes genoem oor waarom die ANC nou in koalisie met Icosa, Sarco en die EFF in die Groter Oudthoorn gegaan het.

Die waarskynlikste is om aanstellings te maak, tenders toe te ken asook projekte tot hul voordeel vir die verkiesing.

Die DA kan nou die kiesers aan hul kant kry deur hulle fyn dop te hou en nie net ’n geraas daaroor te maak nie. Hou hulle in die hof deur gereeld klagtes by die polisie en openbare beskermer in te dien en lig gereeld die kiesers in.
-Wakkerslaap van die hoorn