Ek het vanmôre wakker geword oor ’n paar idiome, wat bygedra het tot hierdie onrustige gees wat in my hart kom nesskrop het.
Die spreekwoord wat lui: As die hemel val, is ons almal dood, verwys spottenderwys na wanneer iemand allerhande besware teen ’n onderneming opper. Die afgelope weke het Eskom kwaai deurgeloop. Verdien hulle die kritiek?
Dit het my laat dink aan ’n selfgeskepte idioom: Moenie sketse maak sonder byskrifte nie. Dit beteken: Moenie iets van iemand sê as jy dit nie kan bewys nie.
Die ander idioom wat by my opgekom het tydens my vroeëmôre-worsteling is, let wel, ook ’n selfgeskepte spreuk wat ek by wyle oom Pieter Herman gehoor het.
As jy links en regs mense beswadder, het hy ewe kalm opgemerk: “Broertjie, jy moet versigtig wees. ’n Bek is ’n ding was afdraand praat. Onthou net dit wat jy gespreek het, kan jy nie terugtrek nie.”
My ma het altyd gesê: “As jy enige stelling maak, moet jy dit kan kwalifiseer.”
In die tweede paragraaf van hierdie skrywe, word na Eskom verwys wat omtrent deurloop oor beurtkrag en die ontstellende fases wat ingestel word. Geen respek vir die publiek wat moet steier onder die ongevraagde beurtkrag.
Dié donkerte is die ideale teelaarde vir inbrake, gewapende roof en gewelddadige misbruike.
Onthou as jy kritiseer, moet jy seker wees van jou feite. En jy moenie optree soos “Missies Cape Times” nie.
Dit is nou die spreekwoordelike “bek-koerante”.
As jy sê Eskom se beurtkragtye is onvanpas, dan is jy natuurlik reg, want dit val op die mees onmoontlike tye, die voorafverkreë tydskedules ten spyt.
My onrus vanmôre spruit uit die idiome waarmee ek dié skrywe inlyf. Bygesê, ek is van mening dat die beurtkragtye gemanipuleer word.
En hier gaan ek so een of twee sketse sonder byskrifte maak. As dit waar is dat Eskom beurtkrag geprivatiseer het, moet hulle dit vir ons sê. By wie vind beurtkrag nie plaas nie?
Ek weet hier word vandag een of twee gewaagde stellings gemaak.
’n Ander stuk ongerief is wanneer die verkeersligte nie werk as gevolg van beurtkrag nie. Daar word nie puntdiens gedoen nie. Veronderstel daar gebeur ongelukke by die spesifieke kruisings?
Dit kan ook so maklik gebeur dat tydens hierdie beurtkrag van Eskom selfsug ontstaan omdat “dit nie my skuld is nie”, maar wel Eskom s’n.
“Onthou selfsug is ’n skurfte,” het Ousie Roeslyn gesê.
’n Skurfte, het sy gesê, is soos ’n besmetlike siekte. Dit word nie maklik deur ’n owerheid afgeskud nie. Dit is byna soos ’n fatale spel. Ja, kom ons gee die ding ’n naam.
Party mense blameer die regering, of enige bestuur; solank dit net ’n gesagsdraende liggaam is – plaaslik, provin-siaal of nasionaal.
Dit is soms nodig by die meeste regeringsinstansies en dit sê ek sonder benadeling van regte.
Net die Here ken die waarheid.
Dis omdat die mense so vol van hulleself is dat hulle nie die agtergelate gemeenskappe ten volle inlig oor die beurtkrag-oplossing, wat tot almal se voordeel sal strek.
Ek het so gehoop Ousie Roeslyn sou in diepte uitlê wat sy sien as ’n skurfte van die owerhede vandag. Het sy gepraat van ’n besmetlike siekte?
Wat is die naam wat sy aan die skurfte wou koppel?
Korrupsie en finansiële vergrype?
Is dit die eiebelang wat sy in gedagte gehad het?
Ek het lank na Ousie gekyk en toe weet ek – beurtkrag gaan nog lank saam met ons wees.
En sê nou daar kom ’n tyd dat die hemel val, sal ons dan nog leef?
Naskrif: Die eiebelang skree, terwyl die gewete praat.
Die eiebelang skree, terwyl die gewete praat…
Deur Poem Mooney