DIE saak teen Patrick Rondganger (35), wat daarvan aangekla word dat hy op 8 April vanjaar sy meisie se pa, Eric Xaxaka (59) vermoor en daarna in ’n vlak graf begrawe het, is in die Oudtshoorn Streekhof tot 17 Januarie 2023 uitgestel.
Moontlike pleitonderhandelinge sal dan plaasvind.
Rondganger staan tereg op klagtes van moord, roof met verswarende omstandighede en dwarsboming van die gereg.
Xaxaka, van Bongolethu, se lyk is op 8 April vanjaar in ’n graf buite sy huis, onder twee yskaste in ’n aangrensende buitekamer gevind nadat hy op 6 April as vermis by die polisie aangemeld is. Slegs ’n enkele dag voor sy 60ste verjaarsdag.
Ao Martin le Roux, ondersoekbeampte in die saak, het met Rondganger se borgaansoek die hof meegedeel dat Xaxaka 25 keer met ’n mes gesteek is en Rondganger nie op borgtog geregtig is nie.
Rondganger het reeds aangedui dat hy onskuldig sal pleit wanneer sy verhoor begin.
Streeklanddros Sylvia Mandla het die saak Maandag op versoek van Rondganger se regsverteenwoordiger Bradley Michaels uitgestel. (Deur Garnett Wicomb)
Moordsaak teen Patrick Rondganger in 2023 verhoor
Eric Xaxaka