Inwoners woedend nadat man deur voertuig getref is voor huiswinkel

Dit is by hierdie spaza-winkel waar Ricardo Pylman deur ’n voertuig getref is. Foto: Deon Meyer

WAT andersins ’n rustige Saterdagmiddag in Ladismith was, het skielik ’n ander wending geneem toe Ricardo Pylman (27) deur ’n buitelander met sy voertuig raakgery is met die gevolg dat die Ladismith Polisie ’n saak van roekelose en nalatige bestuur teen die bestuurder ondersoek.
Pylman is raakgery terwyl hy na bewering in die deur van die huiswinkel, of spaza-winkel gestaan het, besig om inkopies te doen.

Die winkel, Mooi Shop, is in Raubenheimerlaan geleë en dit is hier waar die silwer Toyota Corolla vir Pylman getref het.

Ontstoke inwoners van die buurt waar die winkel geleë is het geeïs dat die bestuurder, wie waarskynlik in die winkel versteek was, moes uitkom.

Intussen is Pylman na die plaaslike hospitaal geneem waar hy vir sy beserings behandel is.
Teen druktyd van die koerant gister was Pylman steeds in die hospitaal.

Met die aankoms van die polisie op die toneel het die oproerige skare reeds gegroei en was dit duidelik dat hulle boos was vir die beweerde skuldige party. Die bestuurder van die Corolla is deur die polisie uit die winkel verwyder en na veiligheid geneem. Pylman se familie het gesê hulle voel dat die polisie nie die erns van die saak in aanmerking neem nie. (Deur Deon Meyer)