Wat is CrossFit?

Melanie en Bert Verlinde in aksie, tydens die West Coast Throwdown verlede naweek in Kaapstad. Foto:Laken Wilson Photography

CROSSFIT in ses woorde: konstant gevarieerde funksionele beweging teen hoë intensiteit.

Dit is ’n krag- en kondisioneringprogram wat insluit: oefeninge met gewigte, liggaamsgewigoefeninge, gimnastiekbewegings, hardloop, roei en fietsry. 

Elke dag wat jy in ’n CrossFit-boks instap, sal jy ’n ander oefen-sessie hê, terwyl jy persoonlike afrigting ontvang.

Daar is sommige oefeninge wat van tyd tot tyd herhaal word om fiksheid en/of krag te toets, maar verder sorg CrossFit-programmering dat die oefenstimulus strategies gevarieer word sodat jy vir enige fisieke taak reg en gekondisioneer is.

Jy sal nooit verveeld raak met die wye verskeidenheid daaglikse oefeninge nie!

Die behoeftes van ’n Olimpiese atleet en ons oupas en oumas verskil slegs in graad, want ons het almal dieselfde tipe funksionele bewegings en oefeninge nodig.

Daarom werk CrossFit vir enigiemand, want funksionele oefeninge is noodsaaklik om fiksheid te verbeter en funksionele onafhanklikheid te handhaaf.

Elke persoon werk teen hul eie vermoëns en kapasiteit en oefeninge is oneindiglik aanpasbaar vir elkeen se spesifieke behoeftes.

Daarom kan jy op enige stadium begin om CrossFit te doen, fiks of onfiks, oorgewig of nie, jonk of oud, man of vrou. 

Chroniese siektes (diabetes, cholesterol, hipertensie) is die “silent killers” van ons tyd. ’n Leefstyl met gereelde oefening en ’n gesonde dieet help om hierdie siektes te voorkom en te verbeter by mense wat dit reeds het.

En dit is presies wat die CrossFit-leefstyl aanmoedig. 

CrossFit help nie net dat jy beter lyk en fisiek gesonder word nie, maar die psigiese voordele is net so belangrik. Oefening verbeter ook geestesgesondheid. Dit verbeter geheue en verminder angs, depressie, stres en negatiewe gevoelens omdat goedvoel-hormone soos endorfiene en serotonien deur oefening vrygestel word. Oefening help jou ook om beter te slaap.

CrossFit vind plaas in groepverband en bied ’n wonderlike manier om deel te wees van ’n gemeenskap met dieselfde lewenstyl en doelwitte. Dit bied ondersteuning en aanmoediging. 

Die heel beste is om die eerste stap te doen en ’n klas te gaan bywoon om self te ervaar wat op ’n daaglikse basis gedoen word.

Jy sal verbaas wees hoe baie jy dit geniet! Maak dit jou voorneme vir 2023 om jou gesondheid eerste te stel en deel te word van ’n gemeenskap waar goeie en gesonde waardes aangemoedig en ondersteun word. 

Geaffilieerde CrossFit-gimnasiums en gekwalifiseerde CrossFit-afrigters kan gevind word op CrossFit se webtuiste. Maak vandag nog ’n afspraak om ’n klas by te woon. 


• Melanie Verlinde is ’n CL-L2-afrigter en biokinetikus by Black Mountain CrossFit in Oudtshoorn. (Deur Melanie Verlinde)