DE KRANS, bekende Calitzdorp-wynkelder en een van Suid-Afrika se voorste portstyl-wynprodusente, het geskitter by die 2022 National Wine Challenge Awards / Top 100 SA Wines-toekennings.
De Krans se Cape Vintage Reserve 2019 portstyl-wyn is nie net aangewys as die Wyn van die Jaar in die soet-kategorie nie, maar ook as die Kampioen Beste in Klas in die Grand Cru National-afdeling.
Dit is voorts met ’n dubbelplatinumtoekenning bekroon en aangewys as ’n plek op die gesogte Top 100 SA Wyne vir 2022-lys.
De Krans se Tinta Roriz 2019 en Touriga Nacional 2020 het elk ’n dubbelgoue toekenning ontvang.
De Krans se wynmaker Christoff de Wet sê die Cape Vintage Reserve 2019 met sy diep-swart kleur en pruimrooi rand is “pragtig aromaties op die neus” met ryp rooibessie-, kersie- en donkersjokoladegeure.
“Jou eerste slukkie van hierdie bekroonde port herinner jou aan ryp donker vrugte soos pruime, moerbeie en swartbessies. ’n Afgeronde port met gladde donkersjokolade-ondertone en ferm tanniene hou die belofte in van ’n versterkte wyn wat gewaarborg is om vir ten minste 30 jaar te verouder. Dit is heerlik alleen of saam met ’n verskeidenheid verouderde kase,” sê hy. Dié wyn is landwyd by afsetpunte beskikbaar teen R375 per bottel.
Die volronde Tinta Roriz 2019 het volgens Christoff ’n aardsheid en sagte geure van rooivrugte en speserye.
Dit is beskikbaar teen R110 per bottel.
Dié wyn is heerlik saam met geroosterde skaaptjops, Springbok-carpaccio of pangebraaide Koedoe-steaks en alle geurige disse.
Christoff beskryf die Touriga Nacional 2020 as ’n pragtige donker pruimrooi wyn met komplekse geure van donkerbessies, viooltjies en kakao. “Die aromas word verder versterk met soet donkerkersie-, witpeper- en geroosterde eikehoutgeure. Die perfekte wyn om saam met wildsvleis op ’n koue wintersaand voor te sit. Pas ook perfek met geroosterde lamskenkel en springbok-carpaccio,” sê hy.
Dit is beskikbaar vanaf De Krans teen R130 per bottel.
Vir meer inligting besoek www.dekrans.co.za of 044 2133 314.
Talle toekennings vir De Krans!
De Krans se Cape Vintage Reserve het talle toekennings by die 2022 National Wine Challenge Awards / Top 100 SA Wines verower. (Foto verskaf)