Tydens die jaarlikse Kinderbeskermingsweek wat landwyd van 29 Mei tot 5 Junie gevier is, het die Oudtshoorn Polisie, Verkeersdepartement en Brandweerdienste besoeke gebring aan die Laerskool Laurus en die Rakkertjies Kleuterskool.
Tydens Kinderbeskermingsweek val die klem op die bewusmaking van die regte van kinders soos uiteengesit in die Grondwet van die Republiek van Suid-Afrika en die Kinderwet (Wet No. 38 van 2005).
Volgens ao Gretchen Michaels, woordvoerder van die Oudtshoorn Polisie, het verteenwoordigers van die polisie, die verkeersdepartement en brandweerdienste by die Laerskool Laurus met leerders gesels oor die gevare van vure, boelies in skole asook kinderregte.
“Daar is ook met die leerders gepraat oor die gevare van dwelms,” sê Michaels.
Frikkie, ’n bekende dwelmsnuffelhond van die K9 Attequa Honde-eenheid op Oudtshoorn, het ook ’n vertoning vir die kinders gelewer.
Tydens ’n besoek aan Rakkertjies Kleuterskool het lede van die Polisie met die kinders gesels oor belangrike kwessies soos hoe om hulle liggame op te pas en ook dat hulle nie vreemdelinge moet vertrou nie. (Deur Stefan Skapie Goosen)
Kinderbeskermingsweek op Oudtshoorn gedenk
Ao Jacinda April by Rakkertjies Kleuterskool op Oudtshoorn. (Foto verskaf)