’N WEERMAGSERSANT wat aan dronkbestuur skuldig bevind is, is in die Oudtshoorn Landdroshof ’n stywe boete en opgeskorte vonnis opgelê.
Die hof het Sipho Mvito (56) daaraan skuldig bevind dat hy ’n voertuig bestuur het terwyl sy bloedalkoholvlak vier keer hoër was as die toegelate vlak van 0,05 gram per 100 ml.
Die staatsaanklaer, Leonie van Rooyen, het in die hof gesê Mvito het sy volle samewerking aan die polisie gegee. Hy het geen relevante vorige veroordelings het nie, het skuldig gepleit en nie die hof se tyd gemors nie.
Mvito se regsverteenwoordiger, Gideon Badenhorst, het gesê sy kliënt besef dat die tronkdeure vir hom oopstaan as hy weer ’n misdaad pleeg. Hy het die hof versoek om nie Mvito se rybewys op te skort nie.Hy het twee vorige veroordelings en is al 33 jaar aan die weermag verbonde.
Waarnemende landdros René Gerber het met vonnisoplegging gesê hy het dit in ag geneem dat Mvito skuldig gepleit het en nie in ’n ongeluk betrokke was waar iemand beseer is of skade berokken is nie. Hy het aan Mvito gesê om hom voortaan soos ’n soldaat te gedra en op te hou om saam met vriende te drink en dan ’n voertuig te bestuur.
“U is nie by ’n drankkompetisie nie,” het die landdros gesê.
Mvito is gevonnis tot ’n boete van R4 000 of twee jaar gevangenisstraf waarvan die helfte voorwaardelik vir vyf jaar opgeskort is. Die oortreding regverdig egter nie die opskorting van sy rybewys nie, het Gerber bevind. (Deur Garnett Wicomb)