Bedrog- en korrupsiesaak teen munisipale amptenaar uitgestel

UITSPRAAK in ’n hofsaak teen ’n assistent-superintendent van die Oudtshoorn Munisipaliteit wat van bedrog en korrupsie aangekla word, is Dinsdag in die Oudtshoorn Streekhof uitgestel omdat die betrokke landdros nie beskikbaar was nie.

Die staat beweer dat Frikkie van Staden (53), wat verantwoordelik was vir onder andere die instandhouding van paaie, tussen Maart 2011 en Julie 2014 die Oudtshoorn Munisipaliteit onregmatig beïnvloed het om werk aan ’n beslote korporasie, Kamvelihe General Trading, te verskaf. Die besigheid het aan sy skoonsuster, Francis Booysen, behoort.

Die munisipaliteit het glo verliese van byna R2 miljoen gely.

Altesaam 109 fakture is aan Kamvelihe betaal vir onderhoud van paaie en huur van gereedskap of toerusting.

Die geld is in Booysen se rekening inbetaal wat dit dan onttrek en aan die beskuldigde oorhandig het.

Hy het dan R500 tot R1 000 aan Booysen gegee.

Die staat voer aan dat Van Staden versuim het om die munisipaliteit in kennis te stel dat hy die de facto-diensverskaffer is.

Van Staden, wat onskuldig pleit, het getuig dat hy nie aanvanklik daarvan bewus was dat die beslote korporasie aan sy skoonsuster behoort het nie.

Die saak dien voor streeklanddros Neels Nortje en is Dinsdag deur streeklanddros Sylvia Mandla tot 29 April 2020 uitgestel. (Deur Garnett Wicomb)