HERSTEL- en mooimaakwerk aan die drie kilometer-lange beton-palissadeheining langs die N12 buite Oudtshoorn na De Rust is Vrydag ná 10 dae se harde werk, finaal voltooi.
Die projek is deur die gemeenskapsleier Leon Campher geïnisieer, nadat die heining langs gedeeltes in Rosevalley, Rosebank en Neppon gesteel en gevandaliseer is, kort nadat dit opgerig is.
Dertig werklose inwoners van die gemeenskap, wat gekies is om die heining te herstel en mooi te maak, het daagliks die hitte trotseer: nie net om ’n inkomste te verdien nie, maar ook om ’n verskil te maak.
Inwoners het volgens Campher nie net positief op die projek gereageer nie, maar hul ook elke dag met water voorsien.
Kinders uit die gemeenskap se handjies is Donderdag op die heining afgedruk. Op die laaste dag is sewe papierbasbome ook langs die heining geplant, in samewerking met die Ek is Oudtshoorn se “100 000 Trees of Hope”-projek.
“Die inwoners is baie trots op hulle nuwe, mooi heining en het reeds aangedui dat enige persoon wat die heining beskadig moeilikheid gaan kry,” het Campher gesê.
Campher het ook sy dank uitgespreek teenoor almal wat saamgespan het om die projek ’n sukses te maak. (Deur Angelique Erasmus)