Waarom skenkings aan brandbestryders noodsaaklik is

Brandbestryders het in die Swartberge, naby De Rust, vir amper 'n week teen die brand baklei. Foto: Naomi van der Westhuizen

Wat maak ’n mens wanneer jou werk jou na ’n afgeleë gebied stuur waar daar geen winkels naby is nie, geen voertuig beskikbaar is om huistoe te ry nie, en jy ure se afstand van jou huis af werk? Wanneer jy boonop nie sommer net vinnig kan ry om kos of water te koop nie?

Dit is ’n werklikheid waarmee brandbestryders gereeld te doen kry, veral wanneer hulle brande in afgesonderde en onherbergsame gebiede moet gaan blus.Met die onlangse brand in die Swartberge was dit op plekke só ruig dat brandbestryders per helikopter ingevlieg moes word, of vir ure lank op tweespoor plaaspaaie moes ry om by die brandtoneel uit te kom. Hierdie mans en dames verrig nie net gevaarlike werk en plaas hul lewens daagliks op die spel nie, maar staar soms ook die realiteit van min of geen kos en water nie, in die gesig.

’n Verdere uitdaging is dat brandbestryders nie altyd vooraf weet hoe lank hulle van die huis af gaan wees nie. Die vraag ontstaan dan: hoeveel kos, water en koeldrank moet ingepak word om vir onbekende ure of selfs dae te voorsien? In sommige provinsies ontvang brandbestryders nie eens ’n botteltjie water tydens sulke operasies nie.

Tydens die onlangse brande in die Klein Karoo het verskeie besighede, organisasies en individue hul hande en harte oopgemaak om te verseker dat brandbestryders nie net basiese noodsaaklikhede soos kos en water het nie, maar ook items wat help om energie en uithouvermoë te behou – soos energiedrankies en energiestafies.

Dit is elke keer vir Die Hoorn ’n riem onder die hart om te sien hoe gemeenskappe saamstaan, donasies bymekaar maak en omgee wys vir dié wat hulself in gevaar stel ter wille van ander.
Dus, wanneer iemand volgende keer vra waarom hulle moet gee – hier is die antwoord: omdat dit nodig is, omdat dit lewens help beskerm, en omdat dit eenvoudig die regte ding is om te doen. (ANGELIQUE ERASMUS)