Vrou van Prins Albert op klagte van moord na woordewisseling en messteek

DIE saak teen ’n vrou van Prins Albert wat van moord aangekla word, is Maandag (19 Junie 2023) in die Oudtshoorn Streekhof vir verhoor tot 27 Augustus uitgestel.

Die 42-jarige Fransina Prins word van moord op Sabiena Daler, ook 42, aangekla.

Die twee was na bewering op 1 Augustus 2019 in ’n woordewisseling toe die beskuldigde die oorledene met die vuis in haar gesig gestamp het. Sy is toe huis toe om ’n mes te gaan haal waarna sy die oorledene verskeie kere gesteek en sy gesterf het.

Streeklanddros Sylvia Mandla het die beskuldigde meegedeel dat sy ’n vonnis van vyftien jaar opgelê kan word indien sy skuldig bevind word. Sy is uit op waarskuwing. (Deur Garnett Wicomb)