Man van Beaufort-Wes staan tereg op klag van strafbare manslag

DIE verhoor van ’n man van Beaufort-Wes wat van strafbare manslag, alternatiewlik roekelose of nalatige bestuur, aangekla word, is Dinsdag (20 Junie 2023) in die Oudtshoorn Streekhof vir verdere verhoor, en wel in die Beaufort-Wes Streekhof uitgestel tot 18 September.

Die 24-jarige Rufus Maans het op 15 Desember 2018 deelgeneem aan ’n “drag racing”-motorbyeenkoms wat deur die Beaufort-Wes Motor-klub gereël was.

Sy motor, ’n maroenkleurige Volkswagen Polo, het een van die toeskouers, die 24-jarige Clarence Loots, getref wat op die toneel dood verklaar is.

Sers Neil Damon van die Beaufort-Wes Polisie, wat die betrokke dag van diens was en op trappe op die hoek van Meyer- en De Vriesstrate saam met vriende getaan het, het Dinsdag getuig dat hy vir ’n oomblik weggekyk en toe ’n harde slag gehoor het.

Toe hy opkyk het hy iets wat vir hom soos ’n motorband gelyk het, deur die lug sien trek. Dit was egter ’n persoon wat deur Maans se motor getref is.

Volgens Damon skat hy die spoed van die twee motors van Maans en sy opponent, ene “Naldo”, tussen 110 en 130 km/h was.

Toe die motors stilgehou het, het hy gesien die windskerm en enjinkap van Maans se motor is beskadig. Maans het uitgesklim en voor sy motor gaan sit.

“Ek kon sien hoedat hy sy kop vashou. Hy het gebewe en was duidelik erg geskok,” sê Damon.
Volgens die getuie het toekouers om die liggaam in die pad saamgedrom en foto’s geneem. Hy het die polisie bygestaan om die nuuskieriges weg te kry sodat paramedici die slagoffer kon help.

Damon het op ’n vraag van die staatsanklaer, Mervan Saaiman, getuig dat hoewel daar versperrings weerskante van die pad was, mense tog maklik oor die ryvlak van die pad kon beweeg.

Die saak is na die kruisondervraging van Damon deur Maans se regsverteenwoordiger, Sakkie Croucamp, deur streeklanddros Sylvia Mandla vir voortsetting uitgestel.

Maans is op waarskuwing vrygelaat en volgens die staat sal nog drie staatsgetuies geroep word om in die saak te getuig. (Deur Garnett Wicomb)