’N MAN van Mosselbaai wat ’n vierjarige meisie wreed verkrag het, is verlede week in die Oudtshoorn Streekhof lewenslange gevangenisstraf opgelê.
Die 42-jarige Makhosandile Nomga het die oggend van 14 Mei 2008 die kind, vandag reeds neëntien jaar oud, verkrag waarna sy verskeie operasies moes ondergaan.
Nomga is in 2016 in die George gevangenis in hegtenis geneem waar hy besig was om ’n vonnis van dertig jaar uit te dien vir ’n ander verkragting.
Dit het gevolg na ’n lang gesloer met die DNA-verslag wat Nomga uiteindelik met die misdaad verbind het.
Die kind was die die betrokke oggend van hul woning op pad met ’n kortpad wat sy geken het na haar kleuterskool toe Nomga haar aan die arm gevat en vir haar gesê het dat hy vir haar ’n pakkie skyfies by ’n kafee om die draai sal gaan koop.
Daarna het hy met haar in die rigting van die bosse gestap waar hy haar brutaal verkrag en ook aangerand het.
Op nog ’n aanklag van verkragting van ’n sewejarige kind op 14 Februarie 2011 is Nomga onskuldig bevind maar wel aan seksuele aanranding skuldig bevind. Hy is ook aan diefstal van ’n goue horlosie,’n kombers, kouse en ’n skoolsak skuldig bevind.
Die staatsaanklaer, Corné Pretorius, het die hof vir lewenslange gevangenisstraf vir die verkrag-ting versoek omdat geen buitengewone omstandighede bestaan om van die voorgskrewe vonnis af te wyk nie.
Streeklanddros Sylvia Mandla, het met vonnis-oplegging gesê dit was een van die wreedste verkragtings waarvan sy weet en Numga geen teken van berou toon nie.
Hy is vyf jaar tronkstraf opgelê vir seksuele aanranding, en drie jaar vir diefstal wat samelopend met die lewenslange vonnis vir verkragting uitgedien kan word. Die hof het ook gelas dat sy naam in die nasionale register vir seksoortreders opgeneem moet word en hom ook onbevoeg verklaar om ’n vuurwapen te besit. Ao Tata Marks van die polisie se eenheid vir gesinsgeweld, kinderbeskerming en seksuele misdrywe op Mosselbaai was die ondersoekbeampte in die saak. (Deur Garnett Wicomb)