’N PA van vyf kinders van Groot-kraal in die Oudtshoorn-distrik wat sy agtienjarige seun met ’n stuk hout teen sy kop geslaan het, is in die Oudtshoorn Streekhof vir ernstige aanranding tot ses jaar gevangenisstraf gevonnis.
Die 37-jarige Angelo Mei het skuldig gepleit en erken dat hy op 18 Desember 2022 sy agtienjarige seun geklap, met die vuiste geslaan en met ’n stuk doringhout oor sy kop geslaan het.
Volgens hom het hy die betrokke dag baie gedrink en ook dagga en Mandrax gerook en hy nie kan ont-hou wat gebeur het nie.
Hy stry nie daaroor nie, is jammer oor sy optrede en sal sy straf aanvaar, het hy gesê.
Mina Booysen, die ma van Mei se oorlede vrou en haar suster – by wie hy ook ’n kind het – het die hof vir tronkstraf gevra omdat hy albei Booysen dogters al aangerand het.
Sy wil nie Mei en haar jongste dogter bymekaar sien nie, het sy getuig.
Sy sal self omsien na haar klein-kinders, het sy op ’n vraag van die landdros geantwoord.
Die staatsaanklaer, Elaine Plaat-jies, het gesê Mei is aan ’n misdryf skuldig bevind wat baie algemeen in die hof se jurisduksie voorkom.
Hy is nie ’n eerste oortreder nie en alhoewel hy vir sy kinders sorg is hy ook die een wat hulle mishandel. Hy het al baie kanse gekry en die enigste gepaste vonnis sal direkte gevangenisstraf wees. Die minimum voorgeskrewe vonnis van tien jaar sal egter te straf wees.
Mei se regshulpprokureur, Eugene Roos, het die hof versoek om vir vonnis in ag te neem dat hy skuldig gepleit het en vyf kinders het om voor te sorg en berou toon. Streeklanddros Sylvia Mandla het wesenlike en dwingende omstandighede bevind om af te wyk van die minimum vonnis en Mei ook onbevoeg verklaar om ’n vuurwapen te besit. (Deur Garnett Wicomb)