Vrou sê verkragter was slinks en sy vrees hom steeds

Deur Garnett Wicomb
DIE man wat aangekla word dat hy ’n vrou vasgebind en verkrag het, het haar op ’n slinkse wyse na sy ghetto in die GG-kamp laat kom onder die wanindruk dat haar kȇrel ook daar was, het die 26-jarige vrou in camera in die hof op Oudtshoorn getuig.

Die beskuldigde, Gerald Tom, pleit onskuldig.

Die vrou het getuig dat sy Tom deur haar vriend ontmoet het. Hy het haar na sy slaapkamer ge-dwing, op die bed vasgedruk en eers haar mond toegebind.

Sy het getuig dat hy haar met die dood gedreig het as sy nie die bewyse, soos haar broekie, ver­nietig nie.

Sy het die hof meegedeel dat sy baie bang is vir Tom omdat hy ook gedreig het dat hy haar sal toor.

Die vrou het voorts onder kruisverhoor ontken dat sy ooit sonder haar kȇrel saam met Tom gekuier het of dat hulle vir ’n tyd lank saam met hom op dieselfde perseel gewoon het.

Die saak is vir verdere getuienis tot 16 Mei uitgestel.