Proefbeampte kry skrobbering

Deur Garnett Wicomb
DIE vonnisoplegging van ’n vrou van Oudtshoorn wat ’n ma van drie kinders met ’n mes in die nek gesteek as gevolg waarvan sy verlam is, is nog ’n keer in die streekhof uitgestel nadat die landdros die proefbeampte uitgetrap het oor ’n onvolledige verslag.

Streeklanddros Retha Pretorius het aan die beampte gesê sy onvolledige verslag bemoeilik die vonnisoplegging van Felicity Botha (42).

Botha het tereg gestaan op ’n klagte van poging tot moord, maar is skuldig bevind aan aanranding met die doel om ernstig te beseer en vonnisoplegging is al verskeie kere uitgestel.

Die hof het bevind sy het die 36-jarige Elizabeth Naude, met ’n mes in die nek gesteek. Naude is sedertdien van ’n rolstoel afhanklik.

Die proefbeampte kon nie aan die landdros verduidelik waarom hy nie persoonlik met die biologiese vader van Botha se twee minderjarige kinders en van haar broers en susters kontak gemaak het nie.

Die proefbeampte kon ook nie verduidelik waarom hy nie met die beskuldigde se 21-jarige dogter gepraat het om vas te stel of sy na die kinders kan omsien nie. Hy het ook nie met die kinders van onderskeidelik sewe en 15 jaar gepraat het nie.

Volgens die landdros oorweeg die hof direkte gevangenisstraf en moet seker gemaak word dat reëlings getref word vir die kinders se welsyn indien Botha tronk toe gestuur word.

Sy wou ook weet hoedat hy ’n opgeskorte vonnis kan voorstel wanneer hy nie eers met die slagoffer gepraat het nie.

“Die slagoffer se belange moet ook in ag geneem word.

“Weet u dat sy ’n parapleeg is, dat sy ook minderjarige kinders het en nie haarself kan was nie?” wou sy van die beampte weet.

Hy het hierop geantwoord dat hy op die beskuldigde gefokus het.

Pretorius het die saak uitgestel vir ’n meer volledige verslag van die beampte. “Die hof kan na aanleiding van die verslag nie ’n ingeligte besluit neem nie,” het die landdros gesê, en die saak vir ’n volledige verslag tot 16 Mei 2019 uitgestel.