Bestuurder van oorlaaide motor skuldig

Deur Garnett Wicomb
DIE vonnisoplegging van ’n man van Calitzdorp, Petrus van Willing, wat sy motor oorlaai en ’n ongeluk veroorsaak het waarin ’n jong man gesterf het, is Maandag in die Oudtshoorn Streekhof tot 17 Mei uitgestel omdat proefbeampte- en korrektiewe verslae nog nie beskikbaar was nie.

Von Willing is aan strafbare manslag skuldig bevind.

Van Willing het die hof meegedeel dat die betrokke beamptes hom tot op datum nog nie besoek het nie.
Streeklanddros Retha Pretorius het hom versoek dat hy, indien dit nie binne ’n week gebeur nie, sy regsverteenwoordiger daaroor moet inlig.

Pretorius het in haar uitspraak gesê dit was growwe nalatigheid van Van Willing wat gelei het tot die ongeluk en dood van Keanan Prinsloo (24), ’n pa van vier kinders.

Die ongeluk het op 29 Desember 2016 op die Calitzdorp-pad plaasgevind.

Van Willing het ’n bakkie waarin Prinsloo ’n passasier was, met sy Mercedes Benz probeer verbysteek, maar van plan verander uit vrees dat hy met ’n aankomende voertuig sou bots.

Sy motor het die sleepwaentjie agter die bakkie getref en albei voertuie het omgeslaan.

Izolda Arnoldus het getuig dat sy op die skoot van Minette Fortuin agter die bestuurder gesit en op die spoedmeter gesien het dat hy teen ’n snelheid van 180 gery het.

Sy het hom gevra om stadiger te ry maar hy het haar geïgnoreer.

Daar was agt volwassenes en twee kinders in die motor.

Die hof het die getuienis van Fortuin as geloofwaardig bevind.

Daarenteen het Alvin Pienaar, bestuurder van die bakkie, en Nigel Maart, ’n passasier, mekaar weerspreek.

Albei, sowel as die beskuldigde, het volgens die landdros nie ’n goeie indruk op die hof gemaak nie.

“Daar is geen twyfel dat die oorlaaide voertuig ’n direkte invloed op die bestuursvermoë van die beskuldigde gehad het nie.

“Hy het die lewens van sy passasiers sowel as die lewens van ander padgebruikers in gevaar ge­stel,” het sy gesê.

Die saak is vir proefbeampte- en korrektiewe toesigverslae, tot 17 Mei 2019 uitgestel.