Klagtes teruggetrek toe klaer nie by hof opdaag

Deur Garnett Wicomb
Twee mans van Oudtshoorn wat tereg gestaan het op ’n klagte van roof met verswarende omstandighede is in die Oudtshoorn Streekhof ontslaan omdat die klaer ’n tweede keer nie vir die saak by die hof was nie.

George Jacobs (21) en Aubrenay Afrika (28) is daarvan aangekla dat hulle op 11 Januarie 2018 vir Renato Plaatjies in Zebraweg, Bridgton van ’n hemp ter waarde van R150 en ’n top ter waarde van R500 beroof het.

Hulle het hom na bewering ook met ’n mes gedreig en met ’n stok geslaan.

Die twee se regshulpprokureur, Cindy Smith, het ’n versoek van die staatsaanklaer, Corné Pretorius, om verdere uitstel van die saak teengestaan omdat dit duidelik is dat die klaer nie verder belangstel nie.
Afrika was reeds langer as ’n jaar in aanhou­ding.

Die saak is deur die staat teruggetrek, maar die twee mans is deur streeklanddros Neels Nortje gewaarsku dat dit weer op die hofrol geplaas kan word indien die klaer opgespoor word en hy met die saak wil voortgaan.