’N MAN van Toekomsrus op Oudtshoorn is in die Oudtshoorn Streekhof skuldig bevind aan huisbraak, roof met verswarende omstandighede en seksuele aanranding, en die saak is vir vonnisverrigtinge tot 6 September uitgestel.
Die 35-jarige Jason Eksteen is daaraan skuldig bevind dat hy tussen 23 en 24 Desember 2020 by die huis van die 54-jarige Chrissie Wessels ingebreek het, haar met ’n tou gewurg het, haar van kruideniersware ter waarde van R350 beroof het en haar seksueel aangerand het deur te poog om haar slaapbroek se knope los te maak.
Wessels het getuig dat sy ná werk ’n rukkie gaan slaap het. Sy het wakker geskrik van ’n geluid en in Eksteen se oë vasgekyk. Sy ken hom goed omdat hulle in dieselfde straat woon.
Hy het haar toe in ’n hoek vasgedruk, haar slaapbroek se knope probeer losmaak en met ’n tou gewurg. Sy het gedink dat Eksteen haar gaan verkrag en doodmaak, maar hy het geloop nadat sy haar dood gehou het.
Die staatsaanklaer, Elaine Plaatjies, het vir Eksteen se skuldigbevinding gevra omdat Wessels nie ’n fout met sy identifikasie kon gemaak het nie. Hy het voor haar groot geword en sy het sommer die volgende dag die saak by die Polisie aange-meld.
Eksteen se regshulpprokureur, Cindy Murray-Smith, was van mening dat die staat nie sy saak bo redelike twyfel bewys het nie en Wessels se weergawe nie waar kan wees nie. Volgens haar is Eksteen se getuienis dat hy nie in die huis was nie, nie so vergesog nie.
Streeklanddros Daniel Boks het egter Eksteen se getuienis as vals en leuenagtig verwerp en skuldig bevind soos aangekla.
Eksteen was op borg, maar die landdros het ná sy skuldigbevinding gelas dat hy voortaan aangehou word totdat hy gevonnis sal word. (Deur Garnett Wicomb)