Motorfietsryer in stabiele toestand ná ongeluk

Die toneel in Voortrekkerweg, Maandag 30 Augustus, waar die motorfiets uit die pad verwyder word. Foto: Stefan Skapie Goosen

DIE Oudtshoorn Polisie ondersoek ’n saak van roekelose en nalatige bestuur nadat ’n wit Isuzu-dubbelkajuitbakkie en ’n afleweringsmotorfiets van ’n supermark Maandag (30 Augustus) gebots het.

Volgens sers Gretchen Michaels, woordvoerder van die Oudtshoorn Polisie, het die ongeluk vroeg die oggend op die hoek van Voortrekkerweg en Jacobsonstraat plaasgevind.

“Die bestuurder van die bakkie het na bewering van Jacobsonstraat gekom, en met die motorfiets gebots wat in Voortrekkerweg gery het,” het sy gesê.

Die motorfietsryer is per ambulans na die hospitaal toe geneem.

Volgens Nadia Ferreira, segspersoon van die Departement Gesondheid in die Tuinroete Distrik, is die beseerde man in Oudtshoorn Hospitaal se noodeenheid behandel waarna hy oorgeplaas is na George Hospitaal. Sy het gesê hy is tans in ’n stabiele toestand, maar het nie uitgebrei oor die omvang van sy beserings nie. (Deur Stefan Skapie Goosen)