Voetganger voor Infanterieskool getref

’n Voetganger het Sondag erg seergekry toe hy in Parkweg na bewering deur dié rooi voertuig getref is. Foto: Angelique Erasmus

Deur Angelique Erasmus
’N VOETGANGER het Sondagmiddag veel­­vuldige beserings opgedoen toe hy omstreeks 17:20 in Parkweg, Oudtshoorn, deur ’n motor raakgery is.

Die man se linkerbeen is gebreek, terwyl hy ook kopbeserings en beserings aan sy linkerarm opgedoen het.

Hy is per ambulans hospitaal geneem.

Die bestuurder van ’n rooi Ford Fiesta, is op die toneel na die Oudtshoorn Hospitaal geneem, waar sy bloedalkoholvlak getoets is.

Volgens sers Gretchen Michaels, woordvoerder van die Oudtshoorn Polisie, is die 64-jarige be­stuur­der van die voertuig vir dronkbestuur in hegetenis geneem.