Gesinne wat slagoffers was van die onlangse brand by die kliniek in Calitzdorp, kry welkome kos en klere. Foto: Deon Meyer
Deur Deon Meyer
DIE ou kliniek in Calitzdorp wat onlangs afgebrand het, het nie die inwoners in sak en as nie.
Die gesinne wat in die ou gebou geplak het, het met groot moed al weer nuwe “hokkies” opgebou.
Jaina Schoeman, wat namens die gesinne met Die Hoorn gepraat het, sê: “Ons mag alles verloor het, maar ons sal nie in sak en as bly sit nie. Ons het opgestaan en gaan blymoedig aan.”
Verskeie mense het reeds hand bygesit om die gesinne te help met kos, klere en materiaal om blyplekke te bou op dieselfde perseel waar die murasie van die kliniek nou staan.
“Dis al werf wat ons ken. Ek het al hier geboorte geskenk aan ’n kind van my. Ons sal maar hier bly tot ons huise kry,” het ’n vrou wat net bekend is as Maria gesug.
Jakob Willemse, gemeenskapswerker, het uit sy pad gegaan om kos en klere vir die gesinne in te samel.
“Die blydskap op veral die kinders se gesiggies was ’n riem onder die hart. Ons bedank die hele gemeenskap, hiervoor,” sê hy.