Vierrigtingstop om verkeer in Parkweg te kalmeer

Regs: Die kruising van Parkweg en Van der Rietstraat wat nou beveilig gaan word met ’n vierrigtingstop en voetoorgang. Foto: Liesel le Roux

DIE Oudtshoorn Munisipaliteit gaan die padkruising waar Park- en Van der Rietstraat by mekaar aansluit, opgradeer om dit veiliger te maak vir voetgangers en voertuie.

Die opgradering sal bestaan ​​uit ’n vierrigtingstop by die kruising asook ’n voetoorgangkruising wat ook rolstoelvriendelik sal wees.

Luidens ’n persverklaring van die munisipaliteit het navorsing getoon “konflik tussen voetgangers en voertuie” is die hoofoorsaak van ongelukke op die kruising. Verskeie modelle om spoed te kalmeer en die kruising veiliger vir voetgangers en voertuie te maak, is ook ondersoek.

Die gewilde Camp Roadhouse-sentrum is op die hoek met die ingang na die SANW oorkant dié sentrum, wat die pad daar van vroegoggend af bedrywig maak.

Die hulp van ’n verkeersontwerpspesialis is ingeroep om die kruising te beveilig.

Glybane na die SANW en Van der Rietstraat-Wes (wes van Parkweg) sowel as geraasstroke en padtekens sal deel uitmaak van die opgradering wat vroeg in 2021 voltooi sal word.