R9 000 deur Zoid ingesamel met reWOLusie-komberse

R9 000 is Maandag en Dinsdag deur die bekende Karen Zoid op Facebook ingesamel vir liefdadigheidsprojekte op Oudtshoorn.

Zoid het vyf handgemaakte komberse, met liefde gehekel deur Monica Vorster, Lizbe Strydom, Yvette Conradie en Charline Stuurman van Oudtshoorn, op haar Facebook-bladsy opgeveil.

Die komberse is ’n produk van die KKNK se ReWOLusie-projek, waartydens Oudtshoorn se strate in 2019 en 2020 met kleurvolle wol­kom­berse en ander wolkunswerke versier is.

Die veiling se opbrengs sal aangewend word om wol te koop sodat komberse volgende winter uitgedeel kan word aan behoeftiges, en ’n ge­deelte sal ook aan die Eljada Nasorgsentrum vir volwassenes met intellektuele gestremdhede ge­skenk word, om daar te help met behoeftes met ba­siese versorging en kos.

Welgedaan aan die vier wonderlike vroue van Oudtshoorn wat hul talent met die reWOLusie-projek gedeel het.

Die komberse het elk vir tussen R1 500 en R2 000 verkoop.

• Enigiemand wat ’n bydrae wil lewer tot dié besonderse gemeenskapsprojek – van skenkings van wol, fondse om wol en penne mee aan te skaf, tot deur saam te begin brei en hekel vir 2021 se projek – kan
Daleen Witbooi kontak by 044 203 8600, e-pos by info@kunste.org.za.

Besoek www.facebook.com/rewolusie vir meer inligting. (Deur Liesel le Roux)