VIER mans van De Rust wat tereg gestaan het op twee klagtes van aanranding met die opset om ernstig te beseer en langer as twee jaar verhoorafwagtend was, is in die Oudtshoorn Streekhof onskuldig bevind en ontslaan toe die getuies en ondersoekbeampte weer nie by die hof opgedaag het nie.
André Wolmarans (27), Sewin Jordaan (31), Booi Luiters (29) en Beuyolun Sauls (26) is daarvan aangekla dat hulle op 29 Desember 2017 vir Nagel Stuurman en Patrick Stuurman met ’n klip gekap en geslaan en van R200 kontant, ’n bottel brandewyn, ’n paar Addidas-skoene, ’n paar North Star-tekkies en ’n selfoon beroof het.
Die vier se regsverteenwoordigers, adv Benito Metembo en Wenzel Botha, het gesê die beskuldigdes is geregtig op ’n spoedige en regverdige verhoor.
Die saak is al verskeie kere uitgestel en die beskuldigdes het op 4 Augustus vanjaar onskuldig gepleit. Daar was geen getuies op 5 Augustus en 12 Oktober 2020 by die hof nie en die saak is Maandag tot die volgende dag vir voortsetting uitgestel. Volgens Metembo het die hof die bevoegdheid om die beskuldigdes ingevolge Art 174 van die strafproseswet vry te spreek omdat hulle weens die gebrek aan getuienis nie skuldig bevind kan word nie.
Botha het gesê dit is nie die skuld van die staatsaanklaer nie, maar gruwelike nalatigheid van die ondersoekbeampte.
Streeklanddros Sylvia Mandla het bevind dat die getuies sonder enige rede weggebly het van die hof en die versoek van die staat vir verdere uitstel van die hand gewys. (Deur Garnett Wicomb)