’N SKOOLLIED wat in 1929 deur die volksdigter CJ Langenhoven geskryf is, het vandeesweek sy pad terug gevind na Arbeidsgenot, Langenhoven se woonhuis wat tans ’n museum op Oudtshoorn is. Dit is sover bekend die enigste skoollied wat hy geskryf het.
Oud-leerders van die skool het dié skoollied wat geskryf is vir die gewese Rooidakskool op Boshof in die Vrystaat aan Arbeidsgenot geskenk.Oud-leerders van die skool wat tans op Oudtshoorn woon, was ook teenwoordig.
Volgens ’n persverklaring van die Langenhoven Gedenkfonds het die matriekklas van die Rooidak-skool in 1929 aan CJ Langenhoven geskryf en hom gevra of hy nie vir hulle ’n skoollied wil skryf nie – ’n versoek wat talle skole aan hom gerig het, maar wat hy nie op gereageer het nie.
Die Rooidakskool was in daardie stadium die tweede grootste skool in die Vrystaat.
Al die matrieks van die 1929-klas het na verneem word hierdie brief onderteken, asook ’n meisie met die naam Engela, wat ook die naam was van Langenhoven se dogter.
In sy antwoord aan die klas rig hy die brief aan “Engela en haar klasmaats”, en hy noem spesifiek dat hy nie skoolliedere skryf nie, maar tog bereid is om die Rooidakskool se versoek na te kom.
Met die skool se naamsverandering in 1995 na die Hoërskool Boshof, en die museum op Boshof wat tot niet is, is die geskiedenis van die skool en daarmee ook Langenhoven se handgeskrewe skoollied weggebêre. Dit is egter onlangs weer in ’n motorhuis ontdek, waarna oud-leerders besluit dat dié stukkie geskiedenis in Arbeidsgenot hoort.
Jan de Waal, wat in 1962 aan die Rooidakskool gematrikuleer het, het Dinsdag namens die oud-leerders wat die oorhandigingsgeleentheid bygewoon het, hul dankbaarheid betuig teenoor die Gedenkfonds vir die belangstelling in die skoollied.
“Ons het nie geweet of gedink dat iemand daarin sou belangstel nie. Dit sou dan iewers op ’n ashoop beland het, maar te danke aan julle sal dit bewaar word,” het hy gesê.
Die skoollied is oorspronklik getoonset deur MC Roode, op grond van ’n aanbeveling van Langenhoven self, en is later weer deur NJ Smuts getoonset.
• Die dorpie Boshof staan ook bekend as die geboorteplek van “volkspele”.
Hierdie tradisionele dans van Afrikaanssprekende Suid-Afrikaners het op 28 Februarie 1914 tydens ’n Sondagskoolpiekniek die lig gesien, en is die eerste keer op die plaas Vuisfontein uitgevoer. (Deur Stefan Skapie Goosen)
