Twee kry elk 12 jaar vir moord

TWEE mans van Bridgton op Oudtshoorn wat saam met ’n derde verdagte van moord aangekla was, is Vrydag in die Oudtshoorn Streekhof elk tot twaalf jaar tronkstraf gevonnis.

Wilton Julies (35) en Conrad Jantjies (43) is daaraan skuldig bevind dat hulle op 23 April 2021 in 17de Laan, Bridgton, met ’n gesamentlike doel opgetree het toe die 36-jarige Christo Prins met ’n baksteen teen sy kop gegooi en hy later aan die besering beswyk het.

Die 23-jarige Jason Wagenaar wat saam met die twee aangekla was, is deur die hof vrygespreek.

Streeklanddros Daniel Boks het met vonnisoplegging van Julies en Jantjies gesê Prins was die enigste broodwinner in sy huis en dat sy familie steeds sukkel om sy dood te verwerk.

Die landdros het bygevoeg dat die twee skuldiges nie eerste oortreders is nie en hul vorige veroordelings sterk teen hulle tel.

“Dit is duidelik dat vorige vonnisse nie die gewenste uitwerking op die beskuldigdes gehad het nie,” het die landdros gesê.

Die hof het die tydperk van aanhouding afgetrek van die voorgeskrewe vonnis van vyftien jaar vir moord.

Hulle is ook onbevoeg verklaar om vuurwapens te besit. (Deur Garnett Wicomb)