BORGTOG is Dinsdag in die Oudtshoorn Landdroshof geweier aan Fransisco (Frank) Erasmus van George wat van moord op ’n 60-jarige veewagter van Bloupunt, Dysselsdorp, aangekla word.
Die 47-jarige Erasmus word van moord op Abraham Heradien (foto bo) aangekla wie se liggaam met verskeie steekwonde op Dinsdag 21 Maart deur verkeersbeamptes in Erasmus se motor gevind is.
Hy plaas die blaam vir Heradien se dood op die verkeersbeamptes wat hom gestop en verhoed het dat hy Heradien na die hospitaal neem.
Erasmus ontken ook dat die mes wat in sy motor gevind is aan hom behoort.
’n Huilende Erasmus het die hof om borgtog gevra omdat hy nie ’n vlugrisiko is nie en die staat nie ’n saak teen hom het nie.
Volgens hom was hy 23 jaar gelede laas by misdaad betrokke en sal nie vir sy hofverskyning wegbly nie.
Oor die insident op die De Rust-pad het Erasmus getuig dat hy vir die verkeersbeamptes beduie het om hom na die hospitaal te begelei maar van die pad getrek is toe hulle hom nie verstaan het nie.
Hy het ook ontken dat hy ’n begunstigde is in polisse van Heradien. Hy het die hof ook meegedeel dat hy ’n familieman is met ’n vrou en dogter en sy “hele lewe verwoes is as gevolg van sy aanhouding”.
Hy het ook die ondersoekbeampte, ao Kuhn, daarvan beskuldig dat hy onder eed leuens vertel in die hof.
Voorts het hy getuig dat wat met die oorledene gebeur het, nie in sy motor gebeur het nie.
Die staatsaanklaer, adv Michelle Weyers, het borgtog teengestaan omdat Erasmus, in die lig van sy vorige veroordelings, ’n geneigdheid toon om misdaad te pleeg en hy nie die hof oortuig het om borgtog te kry nie. Hy was op parool en toon disrespek vir hofbevele.
Landdros Stephanie Strydom het bevind dat dit nie in belang van geregtigheid is om borgtog aan Erasmus toe te staan nie. (Deur Garnett Wicomb)
Borgtog geweier aan vermeendemoordenaar van Abraham Heradien
