Man lank tronktoe vir besit van vuurwapens en ammunisie

’n Man van Oudtshoorn wat tereg gestaan het op die drie aanklagte van onwettige besit van twee vuurwapens en ammunisie is Dinsdag in die Oudtshoorn Streekhof tien jaar gevangenisstraf opgelê.

Petrus Claassen het erken dat hy in besit was van die twee vuurwapens, “.38 special” en ’n .22-pistool, sowel as vyf rondtes ammunisie waarvoor hy nie die nodige lisensies gehad het nie.

Volgens hom het ’n familielid, Marshall Stuurman, hom gevra om dit vir hom te hou.

’n Polisiebeampte het getuig dat hy inligting opgevolg en ’n sak met die vuurwapens en ammunisie in Claassen se slaapkamer gevind het.

Claassen se regshulpprokureur, Wenzel Botha, het die hof versoek om vir vonnis in ag te neem dat hy skuldig gepleit het.

Die staatsaanklaer, Hyron Goulding, het die hof egter versoek om Claassen vir lank tronktoe te stuur omdat hy aan ’n ernstige misdryf skuldig bevind is.

Streeklanddros Ntsoki Moni het met vonnisoplegging gesê die onwettige besit van vuurwapens is ’n groot bron van kommer, nie net op Oudtshoorn nie, maar in die land as geheel.

Volgens haar weet die hof nie wat die beskuldigde met die vuurwapens kon gedoen het nie.

Mense word elke dag met onwettige vuurwapens doodgeskiet sonder dat die skuldiges aangekeer word. Claassen is ook onbevoeg verklaar om ’n vuurwapen te besit. (Deur Garnett Wicomb)