Dertien jaar vir moord

’N JONG man van Oudtshoorn wat iemand oor R20 doodgesteek het, is in die Oudtshoorn Streekhof vir dertien jaar tronkstraf opgelê.

Die staatsaanklaer, Corné Pretorius het gesê dit is skokkend dat iemand sy lewe vir ’n R20 moet verloor en die enigste gepaste vonnis direkte gevangenisstraf is.

Streeklanddros Ntsoki Moni het met vonnisoplegging van die 22-jarige Justin Bobbies gesê die hof het nie veel inligting oor die oorledene nie, maar dat hy ook familie en regte het.

Hy was ook nog jonk en niemand weet wat hy eendag in die lewe sou bekom het nie.

“Die gemeenskap moet beskerm word teen enige vorm van geweld, maar die hof kan nie vonnisse oplê net om die publiek tevrede te stel nie. Mense moet ook afgeskrik word om met messe op straat te loop,” het die landdros gesê.

Die hof het vir vonnis in ag geneem dat Bobbies lank verhoorafwagtend was en ’n eerste oortreder is. Hy is ook ongeskik verklaar om ’n vuurwapenlisensie te bekom. (Deur Garnett Wicomb)