Man onder huisarres vir ernstige aanranding

’N 26-jarige man wat sy saamleefmaat en ma van sy kind met ’n musiekboks in haar gesig gegooi het is in die Oudtshoorn Streekhof vir drie jaar onder huisarres geplaas nadat hy aan aanranding met die doel om ernstig te beseer skuldig bevind is.

Ashley May het erken dat hy en die klaer die betrokke dag saam gedrink het. Sy het hom later van ontrouheid beskuldig en aan sy arm gebyt.

Hy het kwaad geword en haar toe met die plastiek musiekboks gegooi wat ’n oop wond aan haar voorkop veroorsaak het wat toegewerk moes word.

Mei se regshulpprokureur, Brian Carelse, het die hof versoek om vir vonnis in ag te neem dat hy skuldig gepleit en sy meisie hom vergewe het. Hulle het versoen en sy wou die saak terugtrek.

Streeklanddros Daniel Boks het met vonnisoplegging gesê die dae is verby dat vroue sake maak en dan twee dae later dit wil terugtrek. “As dit so aangaan kan die howe maar toemaak,” het die landdros aan die vrou gesê terwyl hy ’n foto van haar gesig aan haar getoon het.

May is ingevolge Art 276 (1) (h) tot vyf jaar gevangenisstraf gevonnis wat in geheel vir vyf jaar opgeskort is en drie jaar korrektiewe toesig, met huisarres vir die volle tydperk behalwe vir werk- en kerkdoeleindes. Hy moet hom ook weerhou van die gebruik van alkohol en dwelms. (Deur Garnett Wicomb)