DIE verhoor van ’n man van Smartie Town op Oudtshoorn, wat van ’n moord van meer as vyf jaar gelede aangekla word, is onlangs in die Oudtshoorn Streekhof voortgesit.
Die 24-jarige Gabriel Goliath word daarvan aangekla dat hy op 7 Desember 2017 vir Bramwill Mei in Reggy Oliphant Rylaan met ’n mes gesteek wat tot sy dood gelei het.
Hy pleit onskuldig op die aanklag van moord maar wel skuldig aan strafbare manslag.
Volgens sy pleitverduideliking het hy uit selfverdediging opgetree nadat Mei hom glo in sy arm gesteek het.
Hy het nie bedoel om Mei dood te steek nie en erken dat hy verkeerd opgetree het.
Die 67-jarige Ewald Jansen het Donderdag (22 Junie) getuig dat hy die betrokke aand in sy sitkamer televisie gekyk het, toe Mei wat met sy oudste dogter getroud was, hom meegedeel het dat hy na Goliath en sy ma gaan.
Oomblikke later het hy ’n gestryery buite in die straat gehoor en uitgegaan. Hy het toe die beskuldigde en sy skoonseun sien stry oor R20 en hulle gevra om dit te los.
Hy het nie enige wapens gesien nie, maar kort daarna sy vrou, Brenda, in die kombuis hoor gil.
Toe hy gaan kyk sien hy hoe sy ’n handdoek vir die oorledene aangee en sien dat sy keel oopgesny is.
“Op daardie oomblik het Bramwill se liggaam verswak.”
Toe hy opkyk het hy die beskuldigde in die deur sien staan met ’n mes met ’n wit hef en hy toe omdraai en loop.
“Dit was Bramwill se laaste uur en hy sterf in sy eie bloed.”
Jansen het hierna bygevoeg dat hy vergeet het om te sê dat Bramwill, voordat hy gesterf het, hom gevra het om sy mes uit sy sak te haal.
“Die mes was skoon en ek het dit op die tafel neergesit waar die polisie dit gekry het,” het Jansen getuig.
Die saak dien voor streeklanddros Ntsoki Moni. (Deur Garnett Wicomb)