Ontdek die erfenis en geskiedenis van Volmoed en De Hoop

Nie minder nie as 60 geskiedenis-geesdriftiges het by die erfenistoer aangesluit. Hier vergader almal by Highgate Volstruisskouplaas aan die begin van die dag. Foto:’s Stefan Skapie Goosen

OM die geskiedenis van jou omgewing te ontdek en te ken is nie altyd maklik nie – die Oudtshoorn-omgewing se geskiedenis self is nie so voor die hand liggend nie – maar die Simon van der Stel-stigting het dit Saterdag (24 Junie) makliker gemaak deur ’n erfenistoer van die Volmoed- en De Hoop-omgewing aan te bied wat hierdie geskiedenis rondom Oudtshoorn in die kollig geplaas het.

Sowat 60 geskiedenis-geesdriftiges en belangstellendes, tesame met ’n paar kinders en honde, het die dag ’n byna 60 km-rit aangepak wat hul meer wys gemaak het oor die erfinis van die Klein Karoo – en spesifiek die omgewing rondom Oudtshoorn en watter impak dit op die distrik se geskiedenis gehad het.

Die Simon van der Stel-stigting is geregistreer by die Kaapstad Erfenisstigting wat die bewaring van die provinsie se kulturele erfenis, wat geboue, terreine, pleine en voorwerpe insluit, bevorder. In die Tuinroete is daar baie lede wat na die omgewing se erfenis omsien en poog om dit te bewaar en promofeer.

Die dag, gelei deur bekende Oudtshoorn-geskiedkundige Hazel Jonker, het begin by Highgate Volstruisskouplaas waarna dit aanbeweeg het na die NG Kerk Volmoed, Grundheim, NG Kerk De Hoop en Greylands – ’n volstruispaleis buite Oudtshoorn.

Al is menigte interessante feite van al hierdie kenmerkende plekke met die toergroep gedeel, is dit byna onmoontlik om elkeen se geskiedenis in een berig ten volle te plaas. Daarom bring Die Hoorn slegs enkele van hierdie gedenkwaardige geskiedkundige feite na ons lesers, met die oog daarop om hul aan te moedig om self hierdie plekke te besoek. Die stigting selfs beoog om hierdie jaar nog meer soortgelyke uitstappies aan te bied.

Die volstruispaleis by Greylands bestaan al ten minste vanaf 1911.

Highgate
Min mense weet dat Highgate – wat tans deur die Kellers besit en bestuur word – se geskiedenis reeds in 1850 begin het. Destyds het die Hooper-familie die plaas, en vele plase rondom dit, besit.

Volgens Johan Keller het die Hoopers van Londen af hierheen geimmigreer, hulself eers in Blanco gevestig, en daarna hierheen getrek. Die naam Highgate kom juis van die Hooper-familie se tuiste in Londen af, waar hulle in ’n omgewing met die naam “Valley of Highgate” gewoon het.

Die Kellers is reeds vir vyf generasies in hierdie omgewing. Met die volstruis bloeitydperk van die vroeë 1900’s, en met die aankoms van talle Jode wat met vere handel gedryf het, het baie boere ryk geword en volstruispaleise gebou. Die huis waarin Keller self bly is in 1910 gebou.

Volgens Keller het die plaas oor die jare heen baie voorspoed en teenspoed ondervind. In 1914 byvoorbeeld, toe die volstruisveerindustrie platgeval het, was dit baie swaar. Tog is die eienaars in 1937 gevra om, buiten die boer met volstruise en ander produkte soos wingerde en vee, ’n skouplaas op te rig deur die regering sodat toeriste hierheen gelok sou word. In daardie dae het toeriste nog per trein hierheen gekom.

Tydens die tweede wêreldoorlog is die plaas weer gesluit maar later weer geopen.

Tans lok Highgate minstens 4 000 besoekers per jaar, en volgens Keller beteken die onlangse reën ’n baie voorspoedige seisoen vir die omgewing.


NG Kerk Volmoed
Elke klein dorpie het sy eie argitektoniese skat – daardie een ikoniese gebou wat op poskaarte verskyn en deur toeriste afgeneem word. Volmoed, buite Oudtshoorn, se historiese trots is die kerkgebou van die Nederduitse Gereformeerde Ge-meente Volmoed.

Louis Jordaan, ouderling van die gemeente, het vertel dat hierdie gemeente, wat jonger is as die kerk self, in 2021 hul 100ste bestaansjaar gevier het.

Dié merkwaardige kerkgebou is reeds in 1911 op die plaas Armoed ingewy – kort daarna is dit na Volmoed verander. Afstigting van die NG Moedergemeente is egter 10 jaar later eers goedgekeur, en die NG Gemeente Volmoed is amptelik op 29 November 1921 gestig.

Die kerk is gebou met 700 sitplekke, en die kenmerkende orrel wat tans steeds die lofgesang lei, is in 1959 geïnstalleer.

Tydens die eeu wat die gemeente bestaan, het 11 leraars die gemeente gedien, met een van dié gemeen-skapsleiers wat twee keer aan die stuur van die kerk gestaan het. Tans is die kerk die geestelike tuiste van minder as 100 belydende en minstens 19 dooplidmate.

Die kerk en die gemeente het ’n ryk geskiedenis.

Die Volmoed NG Kerk se gemeente bestaan al meer as 100 jaar.

Grundheim
Danie Grundling, wat op die ou-derdom van 85 steeds aan die hoof van hierdie kelder staan, vertel dat sy voorvaders reeds in 1744 uit Duitsland na Suid-Afrika gekom het. Sy voorvaders sou uiteindelik in 1858 in die Klein Karoo – op dieselfde plaas – beland, en tans is hy die vyfde ge-slag wat hier boer, waarop hy baie trots is.

Die geboue en huise wat tans op Grundheim staan is steeds “pioniers-huise”, sê hy, wat meestal van sandsteen en klei gebou is. Die ikoniese muur voor die proe-lokaal is selfs slegs van plat klippe gebou.

Volgens Grundling is wingerde hier eers in 1918 geplant. Voorheen is ander gewasse en vee hier aangehou. Maar sedert Grundheim onder meer wyn, soetwyn en “gin” begin maak het, het die kelder menigte gesogte Michael Angelo-toekennings ontvang wat internasionaal erken word.

Grundheim was ’n interessante en verfrissende stop.

NG Kerk De Hoop
Een van die oudste kerke in die omgewing is in 1909 voltooi. Hierdie kerk se geskiedenis is lank en ingewikkeld. Die gemeente het destyds ontstaan weens die soeke van die vroeë gemeenskap om ’n kerk nader aan hulle te hê. Voorheen moes hulle na Oudtshoorn, George of selfs Mosselbaai gaan vir bediening.

Die boeregemeenskap was eens volop en het langs die oewers van die Olifantsrivier gedy. Tans staan die kerk agter slot en grendel en word skaars gebruik. (Deur Stefan Skapie Goosen)

Die NG Kerk in De Hoop staan al sedert 1909.