Titus-moordverdagtes blykbaar na hooggeregshof

Deur Garnett Wicomb
ALLE aanduidings tans is dat die saak teen die vier verdagtes wat van moord op die soldaat, Preston Titus, aangekla word, uiteindelik in die hooggeregshof aangehoor sal word.

Die saak teen die vier is Maandag in die Oudtshoorn Landdroshof vir die akte van beskuldiging tot Oktober uitgestel. Titus se weduwee, Magdaleen (Maggie) Titus, wat glo die baasbrein agter die moord was, haar boesemvriendin, Natasha Stuurman,

Justice Mooi en Masimthembe “MJ” January, word van moord met voorbedagte rade en besit van gevaarlike wapens aangekla.

Die distrikshof-beheeraanklaer, Lisa Cremer, het die hof versoek om die saak weer uit te stel op afwagting van die akte van be­skuldiging van die Hooggeregshof wat dan aan die beskuldigdes voor­gelees sal word.

Die hofsaal was vroeg reeds stamp­vol maar verrigtinge kon nie begin alvorens January wat glo vir sy lewe in die Oudtshoorn gevangenis vrees en in George aangehou word, na die hof gebring is nie.

Landdros Roelf Konstabel het die saak die keer tot 3 Oktober uitgestel en die borgtog en borgvoorwaardes van die twee vroue verleng. Mooi en January bly in aanhouding.