Splinternuwe bakkie rol op grondpad

Die bakkie na die ongeluk. Dit is sowat twee maande gelede deur die Prins Albert Munisipaliteit gekoop. Foto: Marlene Malan

Deur Marlene Malan
’N AMPTENAAR van die Prins Albert Munisipaliteit is verlede Vrydag op die grondpad tussen Leeu-Gamka en Prins Albert beseer toe sy voertuig die pad verlaat en gerol het, glo nadat ’n bok voor die bakkie ingespring het.

Vandross Konstabel het sy heup beseer en nog geringe beserings opgedoen, het Anneleen Vorster, munisipale woordvoerder en hoof: korporatiewe dienste, by navraag gesê. Die bakkie waarin hy gery het, is onherstelbaar beskadig. Dit is een van vier nuwe voertuie wat die munisipaliteit sowat twee maande gelede aangekoop het. “Klaarblyklik het ’n bok voor die voertuig ingespring.

Ons is dankbaar Vandross het nie seerder gekry nie.”

Nog een van dié bakkies is vier dae nadat dit in gebruik geneem is na die handelaar teruggestuur weens ’n meganiese fout, volgens Vorster. “Die voertuig is teruggestuur met olie wat by ’n wiel afgeloop het. Die bakkie is onder waarborg en word deur die verskaffer herstel.” Vorster het gesê die gerugte dat iemand olie in die bakkie gegooi het en dit daarom gebreek het, is onwaar.

Die munisipaliteit het die vier voertuie, sowel as ’n werktuig vir oorhoofse dienste (“cherry picker”) onlangs kontant aangekoop vir die verbetering van dienslewering. Die bakkies het altesame R760 000 gekos en die werktuig R285 000.
Vorster het gesê al die munisipale bakkies is verseker en ’n versekeringseis is geregistreer.