Die voormalige speaker van die raad, Japie Coetzee het ’n mandaat opgestel wat aan die Burgemeester en die Munisipale Bestuurder oorhandig is, wat handel oor die tekort aan en misbruik van gestremde parkering.
Coetzee wil graag die kollig sit op die tekort aan en misbruik van gestremde parkering in die munisipale gebiede in Oudtshoorn.
“Dit is vir ons as gestremde inwoners van Oudtshoorn ’n groot kommer en ongerief dat daar geen of min gestremde parkering in die dorp of by munisipale instansies is nie. Die wat wel daar is, word misbruik deur mense wat nie die reg het om daar te parkeer nie”, het hy aan Die Hoorn vertel.
Na afloop van die vergadering is terugvoer vanaf die munisipaliteit ontvang rakende die kwessie.
Volgens Aurelia Mle, woordvoerder van die munisipaliteit, word motoriste dringend daarop gewys dat daar streng opgetree sal word teen die onwettige gebruik van parkering vir gestremdes.
Dit gebeur gereeld dat motoriste onnadenkend op hierdie plekke parkeer en sodoende verhoed dat dit deur mense met gestremdhede gebruik kan word. Parkering vir persone met gestremdhede is SLEGS vir gebruik deur die houers van die nodige permitte wat deur die munisipaliteit uitgereik word.
’n Tweede kommerwekkende tendens wat kop uitsteek, is die misbruik van hierdie permitte. Dit is belangrik om te weet dat die permit nie vir ’n voertuig uitgereik word nie, maar wel vir ’n persoon met gestremdhede.
Dit beteken dat die persoon aan wie die permit uitgereik word, ’n insittende in die voertuig moet wees wanneer daar van parkering vir gestremdes gebruik gemaak word. ’n Oortreding in hierdie verband sal nie net tot ’n boete lei nie, maar ook tot die terugtrekking van die betrokke permit. (Deur Lindi Brill)
Terugvoer oor gestremde parkering
