NA verlede week se oulike storie oor Glenara, en die versoek vanaf Die Hoorn dat lesers meer inligting en staaltjies oor hierdie gebou moet deel, is daar oulike en fantastiese stories met die koerant gedeel.
Glenara het gedien as die manskoshuis vir Oudtshoorn se Onderwys Kollege. Hanoria Cronje vertel aan Die Hoorn dat haar man Piet Cronje as student by Glenara gebly het. Haar man is ongelukkig verlede jaar oorlede.
Sy finale jaar as student was in 1959, waarna hulle uit Oudtshoorn verhuis het. Ses jaar later was hulle egter terug op die dorp, maar die gebou was toe reeds gesloop.
“Die koshuis het aan die NG Kerk Moedergemeente in Kerkstraat se pastorie gegrens, met ’n pragtige vrugteboord tussen die pastorie en die koshuis,” onthou sy.
Die eerstejaars moes altyd vrugte uit Ds. De Jager se tuin steel, as deel van hulle ontgroening.
“Een student, Lombaard Nortje het een jaar vanaf die balkon op die boonste verdieping afgeval, gelukkig binne-in die appelkoosboom, wat darem sy val gebreek het,”
Die appelkoosboom kan links op die foto gesien word langs die balkon.
Sy onthou ook dat die koshuisvader Koos Smit was en sy vrou aan almal bekend was as “Tannie” Smit.
Koos en Yvonne Carstens vertel dat haar man was nie in die koshuis self nie, maar dat hy elke aand by Glenara gaan aandete eet het in 1956. “Ek het in ’n kamer gebly langs die CP Nel museum,” vertel Koos.
Hy het sy vrou, Yvonne in sy tweede jaar ontmoet en net oë vir haar gehad. Hulle is vanjaar 63 jaar getroud.
Yvonne onthou dat baie van die damesstudente Vrydagaande na Glenara vergesel is, deur die mans student waar hulle gaan tee en koffie drink het.
“Ons het ook ’n speletjie gespeel waar ons kamstig in ’n sloot vassit op die grasperk, en dan moes die manne ons ’n soentjie gee, sodat ons uit die put kon ontsnap,” vertel sy.
Dit is wonderlik om sulke oulike staaltjies te hoor en so te verseker dat Oudtshoorn se ryk geskiedenis behoue bly vir die nageslag.
Enige lesers wat nog stories kan onthou, of selfs foto’s het van Glenara is welkom om kontak te maak met Die Hoorn. Stuur ’n e-pos na redaksie@hoorn.co.za of kontak Angelique by 076 606 2554. (Deur Angelique Erasmus)