Tans geen toetsbeampte op Oudtshoorn vir voertuiglisensies

MENSE wat vir leerlinglisensies of rybewyse op Oudtshoorn wil gaan, sal tot na 24 September moet wag omdat daar tans geen toetsbeampte by die toetsterrein op Oudtshoorn beskikbaar is nie.

Met verskeie inhegtenisnames deur die Valke vroeër vanjaar onder personeel werksaam by die verkeersdepartement op Oudtshoorn, is daar ses personeellede minder met slegs een toetsbeampte oor. Dié beampte is egter tans siek en behoort na 24 September weer te kan werk.

“Dit is ongelukkig so dat ons slegs een toetsbeampte het vir bestuurslisensies, maar die munisipaliteit is in die proses om vakante poste te vul,” sê die munisipale woordvoerder, Aurelia Mle. “Sodra aanstellings gemaak word, sal die situasie verbeter. Die verkeersdepartment kan in hierdie stadium ongelukkig net soveel doen met die mannekrag tot beskikking.

“Amptenare wat ander funksies verrig, help tans uit met onder andere die hernuwing van bestuurs-lisensies, professionele bestuurspermitte en leerlinglisensies.”

Mle sê ook mense moet onthou hulle kan by enige bestuurslisensie-toetssentrum aansoek doen vir bestuurslisensies en is nie tot Oudtshoorn beperk nie.

“Sodra nuwe aanstellings gemaak is, behoort alles weer goed te verloop. Daar is ses mense uit die stelsel wat nog nie vervang is nie, en die verkeersafdeling moet tans met ses mense minder as voorheen funksioneer.”