Misdaadpatrollie: Twee mans met gevaarlike wapens vasgetrek

TWEE mans wat met gevaarlike wapens in hul besit betrap is, is verlede week deur die Oudts­hoorn Polisie in hegtenis geneem.

’n 30-jarige man is Maandag 19 September vasgetrek nadat hy ’n mes probeer weggooi het terwyl die polisie besig was met ’n misdaadpatrollie in Bridgton. Volgens ao Gretchen Michaels, woordvoerder van die Oudtshoorn Polisie, het die polisie opgemerk dat die man vinniger begin loop het toe hy ’n vangwa sien. Hy het ’n blink voorwerp uit sy broeksak gehaal en weggegooi. Hy het erken dat dit sy mes was en kon geen verduideliking gee hoekom die mes in sy besit was nie.

In Bongolethu is ’n 34-jarige man vasgetrek met ’n panga wat in sy broek versteek was. Michaels sê die man is deur die polisie in Impalaweg agternagesit nadat hy begin hardloop het toe hy die vangwa opmerk.