OUDTSHOORN se Grootkopstortingsterrein, net buite die dorp in De Rust se rigting, word tans gerehabiliteer nadat die Oudtshoorn Munisipaliteit op 1 Maart vanjaar ’n maatskappy aangestel het om dié omvangryke projek aan te pak.
Volgens ’n persverklaring van die munisipaliteit is Amandla GCF Konstruksie op kontrak tot 30 Junie 2023 aangestel. Die maatskappy het volgens die munisipaliteit ’n werksgeskiedenis met verskillende regeringsfere en die privaatsektor, insluitend soliede afvalbestuur.
Die kontrakteur moet ingevolge die ooreenkoms inwoners in diens neem vir die termyn van die kontrak, veral as informele hanteerders van herwinbare materiaal.
“Hierdie ooreenkoms is bereik sodat die gemeenskapslede ekonomiese voordele kan geniet en om bemagtig te word om werksondervinding op te doen,” sê raadslid Vlancio Donson, portefeuljekomiteelid vir Tegniese Dienste. Volgens hom het die Covid-19-pandemie ’n negatiewe ekonomiese uitwerking op mense, veral ook diegene wat op infomele basis herwinbare materiaal hanteer.
Die munisipaliteit het die publiek en besighede wat die stortingsterrein gebruik bedank, maar ’n dringende versoek gerig aan diegene wat vullis onwettig in openbare ruimtes stort en vullisbakke misbruik, om dit te staak. “Die praktyke is ontoelaatbaar, plaas onnodige finansiële druk op belastingbetalers en bring onhigiëniese toestande teweeg, terwyl daar entrepeneurs is wat grootmaat-vullis vanaf huishoudings en besighede teen ’n tarief verwyder en wettig stort op die Grootkopstortingsterrein.
Die stortingsterrein is weekdae vanaf 07:00 tot 17:00 oop.
Stortingsterrein gerehabiliteer en werksgeleenthede geskep
Amandla GCF Konstruksie-personeel (in rooi) op die stortingsterrein. Foto verskaf