DIE Oudtshoorn Polisie is bekommerd oor die groot getal aanrandingsake wat weekliks aan-gemeld word.
“Daar is ’n atmosfeer van disrespek en onver-draagsaamheid in die gemeenskap met sowat 45 aanrandingsake per week. Drank speel ’n rol en laat mense onverantwoordelik optree,” sê brig Susan Crafford, stasiekommissaris van Oudtshoorn.
Luidens statistiek is daar die week van 12 tot 20 April 114 mense in hegtenis geneem – die meeste vir ernstige misdade, met 20 vir aanranding en 11 vir eiendomsmisdade soos diefstal, huisbrake en diefstal uit voertuie, vyf mense vir die besit van dwelms en twee vir dronkbestuur.
Crafford het inwoners ook gewaarsku teen die gevaar van bedrog én voortdurende nuwe slenters – veral aanlyn. Daar is sedert begin April reeds 13 bedrogsake aangemeld. Onder dit tel gevalle waar mense aansoek gedoen het om lenings én geld betaal het om dit te bekom, maar nooit die lening ontvang het nie. Daar is ook gereeld gevalle waar mense deposito’s vir voertuie betaal wat nie bestaan nie en die “verkoper” met die geld verdwyn.
Wees bedag op die volgende:
• Doen navorsing en vind uit of die maatskappy of persoon met wie jy sake doen, betroubaar is. Moenie dat iemand druk op jou plaas om ’n transaksie deur te voer nie.
• Vervalsing van betalingsbewyse is ook ’n probleem. Maak seker geld is in jou rekening inbetaal en moenie net aanvaar dit is inbetaal omdat daar ’n “bewys van betaling” is nie.
• Wees versigtig vir gevalle as daar beweer word dat te veel geld in jou rekening inbetaal is en jy gevra word om die verskil terug te betaal. (Deur Liesel le Roux)
Polisie bekommerd oor bedrog, aanrandingsake
