Sterre blink by Klassieke Klein Karoo Kersfees

Kom ontspan en haal asem terwyl jy na pragtige Kers- en klassieke treffers luister, gesing deur uitsonderlike sangers by ‘n uitsonderlike venue in die buitelug onder die pragtige sterre van die Klein Karoo. Foto verskaf

Die produksie Klassieke Klein Karoo Kersfees, wat op 10 Desember op die granaatplaas Celebratio buite Oudtshoorn aangebied word, is die perfekte geleentheid om die feestyd saam met familie en vriende af te skop. Kom sommer vroeg en geniet die pragtige uitsig oor die granaatboorde en berge, vars lug, heerlike eetgoed en goeie geselskap voordat die konsert om 19:30 begin.

Klassieke Klein Karoo Kersfees – 3 Tenore en ‘n Diva spog vanjaar met vier uitsonderlike sangers wat van die wêreld se mooiste klassieke en Kersliedere gaan sing. Die produksie word eksklusief deur Celebratio geskep en dit is dus die enigste keer en enigste plek in Suid-Afrika waar ’n mens hierdie unieke Kerskonsert kan ervaar.

Lynelle Kenned, Lukhanyo Moyake, Conroy Scott en Tylor Lamani het al regoor die wêreld opgetree en beloof om klassieke treffers soos “Funiculi Funicula”, “My Way” en “Libiamo” hul eie te maak.
Konsertgangers kan ook uitsien na besonderse vertolkings van “Amazing Grace”. “Beauty and the Beast” en “Time to say Goodbye”. Gewilde Kersliedere soos “Jerusalem”, “How Great Thou Art” en “Stille Nag” kan ook gehoor word. Die plaaslike skrywer Tania Smit van Hekelwoorde-faam gaan ook ‘n paar voorlesings doen.

Die sangers word begelei deur die Stellenbosch Stadsorkes met Paul Loeb van Zuilenburg as dirigent.

Lynelle is een van die lieflinge in die vermaaklikheidsbedryf in Suid-Afrika. Sy het aan die Universiteit van Kaapstad (UK) se operaskool studeer en het groot lof ontvang vir haar vertolking van die hoofkarakter Maria in die musiekblyspel West Side Story. Sy spog met ‘n Fleur du Cap- en Fiësta-toekenning vir dié optrede. Sy is ook in 2019 deur Kunste Onbeperk vereer met die “Jong Stem”-titel.

Lukhanyo het al in die grootste konsertsale in die wêreld as solis opgetree. Hy het in 2010 as jong sanger by Kaapstad Opera aangesluit en deur die jare het hy al meeste van die hoofrolle in be­kende operas gesing, insluitend Alfredo in La Traviata en Don José in Carmen.

Conroy (bas-bariton) het eers as meganiese ingenieur gewerk voordat hy besluit het om sy hart te volg en by Kaapstad se Operaskool te studeer. Hy het al orals in die wêreld as operasanger opgetree – onder andere in die titelrol van Mozart se Don Giovanni, as Figaro in Le Nozze di Figaro en as Germont in La Traviata. Hy was ook in die rol van Dr Dulcamara te sien in Donizetti se opera L’Elisir d’amore.

Die tenoor Tylor Lamani van Port Elizabeth het ná skool aan die Universiteit van Kaapstad studeer. Tylor het al die wêreld gesien danksy sy besonderse stem en het al in operas soos Porgy and Bess, Madame Butterfly en Der Fliegende Hollander opgetree.

Die kos- en wynstalletjies maak om 18:00 oop. Kaartjies kos R280 en is beskikbaar by www.celebratio.co.za of by Oudtshoorn Postnet of skakel 0828027138 vir meer inligting.